Bible Society of South Africa

My begin en my einde lê in die Here se hand - 2 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

2daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe,

'n tyd om te plant, 'n tyd om plante uit te trek,

PREDIKER 3:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die gang van die ewigheid, êrens in die verloop van millenia, het die Here gekies om my gebore te laat word. Psalm 139 vervul my altyd met verwondering, veral daar van vers 13 af waar Dawid jubel oor die kosbare manier waarop die Here ons in ‘n moederskoot aanmekaar geweef het. Psalm 139:16 verklaar dat al my lewensdae in die Here se boek opgeskryf is nog voor ek gebore is. Daarmee wil ek graag verstaan dat elke dag op aarde ‘n kosbare gawe uit God se hand is. Ons vier die geboorte van elke baba in ons gesinslewe. Die begin van menslike lewe is so kosbaar, daar is soveel potensiaal wat die Here in elke baba se lewe geplaas het. Vergeet ons nie soms hoe kosbaar die feit is dat ons vandag lewe nie?

Dan, aan die ander kant van ons lewe se goue draad … die onnoembare. Ons gaan sterf. Elkeen van ons. Die meeste van ons hou niks van hierdie gedagte nie. Dit is lekker om te lewe, en ons het soveel drome en planne vir ons toekoms.

Tog herinner die Prediker dat daar ook ‘n tyd is om te sterwe. Die genade is dat ons nie weet wanneer dit ons beurt is nie. Ons elkeen begeer dat dit eendag in die verre toekoms gaan wees, wanneer ons al ons geleenthede goed benut het, en hierdie ou liggaam van ons mooi opgebruik het. Ons weet eenvoudig nie wanneer die einde van die reis gaan aanbreek nie.

Die dood is deel van die beplanning van ons lewens. Die dood herinner ons daaraan dat tyd verbygaan, dit roep ons op om die beste gebruik te maak van elke dag wat ons hier gegun word.

Die dood is ook vir God nie ‘n maklike saak nie. Wanneer Jesus by sy vriend Lasarus se graf staan, dan huil Hy. Al weet Hy dat Hy die mag het om hom uit die dood op te wek. Jesus het gehuil oor die seer wat die dood in hierdie wêreld bring, in die mense wat God liefhet, se lewe. Psalm 116:15 herinner ons dat die dood van God se troue dienaars geen geringe saak in sy oë is nie.

Paulus verwoord dit mooi in Filippense 1:21 dat as ons lewe op aarde Christus is, dan is ons dood vir ons wins. Ons hoef nie meer bang vir die dood te wees wanneer ons aan Hom behoort nie.

My begin, en die einde van my lewe, is veilig in God se hande. My lewe is ‘n kosbare geskenk, van die eerste tot die laaste asemteug.

Gebed: Here, dankie vir die gawe van my lewe. Dankie dat U my lewe beplan het. Dankie dat ek nou kan lewe. Help my om u goedheid vandag te beleef, en voluit uit dankbaarheid my lewe aan U te wy. Dankie dat my toekoms veilig in u hande is! Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS