Bible Society of South Africa

'n Skaapwagter vir die moderne tyd - 4 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

11“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.

JOHANNES 10:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons mag dalk wonder hoekom ons in vandag se tyd ‘n skaapwagter nodig het. Hoekom, want ons lewens verskil heeltemal van die van mense in die ou tyd. Ek dink presies vir dieselfde rede as wat die mense in die ou tyd ‘n skaapwagter nodig gehad het. Modernisme het miskien ons lewens aangeraak, maar ons harte is dieselfde as voorheen – dieselfde ou sondes, ons veg teen dieselfde vyand en beleef dieselfde hartseer.

Ons kan baie oor die hart van God by die ongekompliseerde Midde-Oosterse skaapwagter van lank gelede leer. Ek onthou dat ek die gelykenis van die verlore skaap gelees het en dit geensins sin gemaak het nie. Hoekom sal die skaapwagter die lewe van sy skape ter wille van een skaap in gevaar stel?

Vir my moderne denke het dit geensins sin gemaak nie. Totdat ek myself in daardie situasie probeer plaas het en my verbeel het dat ek, hipoteties gestel, daardie skaap is. Ek het toe besef dat ek nogal ‘n skaapwagter wat my belange op die hart dra, sal waardeer. Dit is wat die skaapwagter van ouds sou doen – hy sou sy baas se skape ten alle koste teen gevaar beskerm. Hy sou gevaar in die gesig staar om sy skape te red. Die Goeie Herder is die Een wat die voorbeeld stel.

In Johannes 10:11 sê Jesus: “Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.”

En Jesus het sy belofte gehou. Hy het een dag op Golgota sy lewe gegee – dit was die losprys wat verlang is vir sy skape wat afgedwaal het. Hy moes die boosheid verslaan van die een wat gekom het net om dood te maak, te steel en te vernietig.

Die Offerlam is wreed doodgemaak: Hy is ter wille van ons geslaan, daar is ‘n doringkroon op sy kop geplaas en terwyl sy bloeddeurdrenkte liggaam onmenslike pyn moes verduur, is Hy deur die verbygangers belaster en gespot. Hy moes ondenkbare pyn verduur toe sy hande en voete met spykers deurboor is.

Alhoewel Hy bespot en getart is, het Jesus aan die kruis bly hang. Hy het Hom oorgegee aan die pyn en lyding want Hy het geweet daar is ‘n mensdom wat Hy moes verlos. Ek dink in sy geestesoog het die Goeie Herder sy skape gesien – vir jou en vir my.

Gebed: Vader, dankie dat U u Seun gestuur het om u skape te kom verlos. Ons loof Jesus vir sy sondelose lewe wat tot die verlossing van baie lei. Dankie vir elke skaap wat afgedwaal het en gered word. Ons is U tot in ewigheid dankbaar. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS