Bible Society of South Africa

Die skaapwagter het sy skape lief - 5 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

11Soos 'n herder versorg Hy sy kudde:

die lammers maak Hy bymekaar in sy arms

en Hy dra hulle teen sy bors,

Hy sorg vir die lammerooie.

JESAJA 40:11AFR83Maak oop in die Bybelleser

Baie mense beweer dat skape nou nie juis die slimste van diere is nie. Dit verduidelik dalk hoekom baie mense heftig beswaar aanteken wanneer hulle met ‘n skaap vergelyk word. Niemand wil verglyk word met iets of iemand wat as dom beskou word nie.

Mense is tog sekerlik ‘n bietjie beter? As dit maar waar was. Ons is baie soos skape: ons dwaal weg wanneer ons die skaapwagter moet volg en dikwels het ons ‘n gebrek aan eie waarde. Soms, soos ‘n skaap wat op sy rug beland het en nie kan opkom nie, beland ons ook in slegte situasies waaruit ons nie kan kom nie. Dan roep ons om hulp en hoop daar is ‘n skaapwagter wat ons sal kom red.

Ek kan net dink hoeveel tyd die skaapwagter spandeer om oor hierdie diere die wag te hou, seker te maak dat hy weet waar presies hulle is, elkeen se neigings en persoonlikheid te leer ken sodat hy voorbereid is vir wanneer hulle in die moeilikheid beland.

God is baie soos dit. Hy ken elkeen van ons deeglik: watter een is geneig om ongehoorsaam te wees of vreesbevange is en ‘n bietjie ekstra troos benodig. Hy ken ons harte en elke neiging. Hy het ons immers gemaak.

In Jesaja 40:11 lees ons hoe, presies net soos die skaapwagter sy skape versorg, God ons versorg. “Soos ‘n herder versorg Hy sy kudde: die lammers maak Hy bymekaar in sy arms en Hy dra hulle teen sy bors, Hy sorg vir die lammerooie.”

Hierdie beeld is een van teer, koesterende liefde. Baie soos Jesus wat oor Jerusalem gesê het: “Hoe dikwels wou Ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke … (Lukas 13:34, 2020-vertaling)

Die skaapwagter is desperaat om sy skape te beskerm en hy wil hulle almal veilig hê. Volgens verskeie bronne het die Midde-Oosterse skaapkrale van ouds nie ‘n hek of ‘n deur gehad nie. Die skaapwagter het self daardie rol vervul.

In Johannes 10:9 sê Jesus: “Ek is die ingang; as iemand deur My ingaan, sal hy gered word. Hy sal in en uit gaan en weiding kry.” Hy is ons Verlosser. Slegs wanneer ons doelbewus ongehoorsaam is en wegdwaal van die veiligheid van die skaapkraal en ons Verlosser, stel ons ons bloot aan die soms dodelike gevolge vandie sonde.

Daar is inderdaad ‘n ewige plan vir elkeen van ons, maar ons moet Hom eers as die Herder van ons siele aanneem en deel van God se kudde word. Dan kan ons onsself koester in die liefde van die ewige Herder en alles wat Hy ons bied geniet – meer as wat ons verdien en baie meer as wat ons ooit kan dink.

Gebed: Hemelse Vader, hoe bevoorreg is ons nie om oneindige liefde van U te ontvang. Dankie! Gee dat ons hierdie liefde ook met ander sal deel. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS