Bible Society of South Africa

'n Sagte plekkie vir skaapwagters - 3 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

20Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat 'n groot volk nou in die lewe gebly het.

GENESIS 50:20AFR83Maak oop in die Bybelleser

God het ‘n sagte plekkie vir skaapwagters, of hoe? Die Goeie Herder gebruik regdeur die Bybel skaapwagters om sy bevele uit te voer en sy wil te volbring.

Een van die beroemdste jong skaapwagters wat sy pa se skape opgepas het, word beskryf as iemand met ‘n rooi gelaatskleur, mooi oë en ‘n goeie voorkoms; ‘n man na die Goeie Herder se hart; ‘n man wat die reus, Goliat, verslaan het. Uiteindelik het Dawid, seun van Isai, die koning geword van Israel, uit wie die Koning van konings, die Koning van alle heerlikheid, gebore sou word.

In die tyd van die Ou Testamentiese patriarge was daar nog een wat na sy pa se skape omgesien het en wie se broers hom verraai het om ‘n veel groter plan te vervul. Josef het ‘n belangrike persoon in Egipte geword en hy het dit uiteindelik moontlik gemaak vir die weersinswekkende skaapwagters uit Kanaän om hulle in Gosen, die beste deel van die land, te vestig. Dit is nou “groen weivelde” as daar al ooit was.

Ten spye van die verraad en lyding wat Josef moes verduur, was God se plan ten goede. Goedheid en die beeld van ‘n skaapwagter loop hand aan hand. Genesis 50:20 stel dit duidelik: “Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen: Hy het gesorg dat ‘n groot volk nou in die lewe gebly het.”

Ons staan in verwondering wanneer ons aan die skaapwagters dink wat daardie nag oor hulle skape wag gehou het en van die eerstes was wat van die geboorte van die Herder gehoor het. En die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Die Goeie Herder is gebore en het na hierdie wêreld gekom om sy skape vry te stel van die tirannie van die sonde en van die skade wat dit in hulle lewens aanrig.

Die Herder en Verlosser van ons siele het sy skape lief. Hy het die Offerlam geword ter wille van sy skape, maar voor dit was Hy soos een van hulle. God het mens geword – Immanuel. Hy het geweet dat die mensdom soos skape afgedwaal het. Hulle het ‘n Skaapwagter nodig gehad.

In Matteus 9:36 lees ons dat toe Jesus “die menigtes sien, het Hy hulle innig jammer gekry, want hulle was moeg en hulpeloos soos skape wat nie ‘n wagter het nie.” In die wêreld waarin ons vandag leef, is dit maklik om moeg en hulpeloos te voel. Miskien benodig ons in hierdie onstuimige tye die Herder nog meer. Die Goeie Herder is steeds die Een wat ons lei, beskerm en verlos.

Gebed: Dankie dat U die Herder van ons siele is en dat U na hierdie wêreld gekom het om vir ons die Offerlam te word. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS