Bible Society of South Africa

Psalm 23-land - 2 Oktober 2023

Deur Imogen Campbell

Bybelteks(te)

Die Here is my herder

1'n Psalm van Dawid.

Die Here is my herder, ek kom niks kort nie.

Op ‘n pragtige, sondeurdrenkte oggend in Augustus stap ek en my metgesel stadig deur ‘n laning bome, ons oë vasgevang deur die grys, ruwe berge wat voor ons verrys.

Onder in die vallei lê vrugbare landbougrond uitgestrek, met hier en daar kothuise in die Kaaps-Hollandse boustyl sigbaar. In hierdie pragtige omgewing kon ons nie anders as om die Here te loof nie. Dit is seker gepas wanneer ‘n mens die werke van sy hande so duidelik aanskou.

Toe ons later deur die sitrusboorde stap, is ons met elke asemteug deur die aangename geur oorweldig – pure vreugde.

Verdere ondersoek het ons geneem na ‘n grasveld wat, danksy die onlangse reën, welig en groen daar uitgesien het. Die skape het rustig en veilig daar gewei, met lammertjies wat oral rondgespring het. En daar was ‘n stroompie naby. Hierdie stadsmeisie was heeltemal betower.

Dit is toe dat ons besef het: ons is in Psalm 23-land. Vol vreugde het ons die eerste gedeelte van dié psalm hardop opgesê: “Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam.” (Psalm 23:1-3)

In daardie kosbare oomblik het ons gevoel asof God stilweg opgedaag het om sy hart aan ons te openbaar. Vol vreugde, het ek net geweet dat God, my Herder, opnuut bevestig dat Hy, soos altyd, ten volle in beheer is en vir my die pad aanwys.

Deur hierdie besondere groen weiveld het Hy weer iets van die konsep van voorsiening aan my geopenbaar – sy oorvloed onmiskenbaar. Die skape was veilig, daar was geen angs sigbaar nie – ‘n vreedsame toneel. En die waterstroompie het my siel verfris.

Ek en my metgesel sal altyd daardie oomblik in ons harte koester. ‘n Oomblik wat God se teenwoordigheid en leiding in ons lewens tasbaar was. Die Bybel: ingespuit met polsende lewe! In die toekoms wanneer ek hierdie psalm lees of hoor, sal ek definitief hierdie toneel in my geestesoog sien – nooit sal dit weer abstrak wees nie. Nee, want ek verstaan dit nou op ‘n nuwe, diepgaande manier. Sy goedheid en troue liefde volg my oral waar ek gaan!

Die kosbare, dawerende vreugde in my hart kan met ‘n lammetjie wat in die veld rondspring vergelyk word. Daardie gevoel word nooit oud nie, al stap ons aan in jare. Immergroen is die lesse van die Woord, so soet soos heuning.

Ek nooi julle uit om die volgende aantal weke saam met my deur die Bybel te stap. Kom ons ontdek opnuut hoe wonderlik die Herder is.

Gebed: Dankie Here Jesus, dat U ons Herder is en dat U ons met vaste sekerheid lei na presies waar U wil hê ons moet wees. Ons prys U dat ons U kan vertrou om ons na groen weivelde te neem en om aan ons nuwe lewenskrag te gee. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS