Bible Society of South Africa

’n Nuwe Begin – 16 Januarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

14Die liefde van Christus dring ons, omdat ons tot die insig gekom het dat een vir almal gesterwe het, en dit beteken dat almal gesterwe het.

2 KORINTIËRS 5:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Iets vreemd gebeur vir die meeste van ons wanneer die klok van 31 Desember na 1 Januarie oorslaan. Dit is asof ’n onsigbare bladsy omgeslaan word en ons met meer moed en hoop in ons harte in die nuwe jaar opstaan.

Dalk was dit nie vir jou so nie. Inteendeel, ons is halfpad deur die eerste maand van 2023 en stééds sukkel jy om soggens uit die bed uit op te staan – nie eens te praat van die uitdaging om jou hart daagliks met hoop en moed te vul nie. Vir jou het ek goeie nuus. God is stééds in staat om vir jou ’n nuwe begin te gee, nuwe geleenthede en meer hoop in jou hart.

In 2 Korintiërs 5:17 lees ons: “Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” (1983-vertaling)

God kan ons ’n nuwe begin gee. Hy het vir Saulus, Paulus gemaak en vir Simon, Petrus. Hy het vir Ester, ’n weeskind, geposisioneer om koningin van die land te word en Hy het vir Ragab, ’n prostituut, as sy instrument gebruik vêr meer as wat sy ooit gedink het moontlik is. Die vraag is net: Sal jy God vertrou om jou lewe en situasie in ’n hoopvolle een te verander? Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat U my lief het. Vul asseblief my hart met hoop om te weet dat 2023 werklik ’n geseënde jaar kan wees. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS