Bible Society of South Africa

Begin nuut … sonder bagasie – 17 Januarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

9Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.

1 JOHANNES 1:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

12So ver as die ooste van die weste af is,

so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.

PSALMS 103:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

’n Paar weke gelede sien ek ’n videogreep van die Amerikaanse akteur, Dwayne “The Rock” Johnson wat in Hawaii by ’n 7-Eleven-winkel instap en al die Snicker sjokoladestafies van die rak afhaal. Hy vra dan die winkelier om al die ander Snickers in voorraad ook na die betaalpunt te bring. Hierna word alles opgelui en hy los dit net daar voordat hy uitstap.

Johnson vertel die storie hoe hy as tiener ’n blok van die 7-Eleven-winkel gewoon het. Elke dag, op pad gimnasium toe, het hy daar gestop en ’n Snicker uit die winkel gesteel vir ekstra energie. Hy was te arm om daarvoor te betaal. Vir jare daarna het hy elke keer as hy verby ’n 7-Eleven-winkel gery het skuldig gevoel. Daardie spesifieke dag het hy besluit om klaar te maak met hierdie skuldgevoel en by die winkel in te gaan.

Soms stap ons ook soos Johnson met ’n skuldgevoel rond oor iets wat ons gedoen het of iemand wat ons seergemaak het. Dalk is dit ook vandag jou tyd om by die “winkel” in te gaan en klaar te maak met dít wat verhoed dat jy ’n lewe in oorvloed smaak.

Wanneer ons berou het vir ons sonde vergewe God ons. In 1 Johannes 1:9 lees ons: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” Ook in Psalm 103:12 staan geskryf: “So ver as die ooste van die weste af is, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons af.” (1983-vertaling)

Net soos God ons vergewe moet ons onsself ook vergewe vir die verlede sodat ons ons nuwe begin sonder bagasie kan smaak. Mag vandag die dag wees wat jy die “winkel” betree en klaarmaak met die verlede. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie vir u vergifnis wanneer ek waarlik berou het. Ek wil vandag (noem die situasie) na U toe bring. Maak my asseblief vry en help my om myself ook te vergewe. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS