Bible Society of South Africa

My skuld is betaal - 26 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

JOHANNES 8

34Jesus sê toe vir hulle: “Dít verseker Ek julle: Elkeen wat sonde doen, is 'n slaaf van die sonde.

JOHANNES 8:34AFR83Maak oop in die Bybelleser

JOHANNES 8

36Eers as die Seun julle vrymaak, sal julle werklik vry wees.

JOHANNES 8:36AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek aanvaar nie maklik geskenke nie. Ek wonder altyd wat het ek gedoen om dit te verdien. Die idee dat Jesus my sondeskuld betaal het, dat my sonde deur genade alleen vergewe is, is iets wat, soos die Engelse sê, “blows my mind away”.

En tog, deur die werking van die Heilige Gees, glo ek die woorde van1 Johannes 1:9: “Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.”

Vir baie van ons is dit soms moeilik om te te glo dat ons sonde volkome vergewe is. Eerstens, ons is wetlik vergewe. Jesus sê in Matteus 5:17 “Moenie eers daaraan dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete af te skaf nie. Ek het nie gekom om af te skaf nie, maar om te vervul.” (2020-vertaling) Jesus het wetlik ons skuld betaal.

God vergewe nie net sommer in die bondel nie. Elkeen van ons wat ons sonde bely het, is persoonlik vergewe! Lees die verhaal van die verlore seun in Lukas 15 en veral vers 20: “Toe hy nog ver aankom, het sy pa hom al gesien en hom innig jammer gekry. Hy hardloop hom tegemoet, omhels hom en soen hom.” Maak jou oë toe en plaas jouself in daardie seun se skoene. Dit is hoe die Vader ons vergewe wanneer ons ons sonde bely.

Ongelukkig stry ons steeds teen die versoekings van hierdie wêreld. God se genade is egter so groot dat Hy ons voortdurend vergewe. In die Bybel is daar talle voorbeelde van sy kinders wat gestruikel het, Hy hulle weer vergewe en in sy diens gebruik het – Moses wat twyfel (Eksodus 3), Dawid wat egbreuk en moord gepleeg het (2 Samuel 11) en Petrus wat Hom verloën het (Matteus 26) is maar ‘n paar voorbeelde.

Ek onthou die dag toe ek Romeine 6:6-7 vir die eerste keer gelees het: “Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is, sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie.” Ek is saam met Christus gekruisig. Ek is ‘n nuwe mens. Hy vergewe nie net my sonde nie, maar my as persoon. Ek is waarlik vry!

Ek glo in die vergewing van sondes.

Gebed: Hemelse Vader, help ons om te leef in die wete dat ons vir die sonde dood is, een is met Christus Jesus en vir U alleen lewe. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS