Bible Society of South Africa

Die Christelike kerk - 25 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

20Julle is 'n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, 'n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is.

EFESIËRS 2:20AFR83Maak oop in die Bybelleser

Deur die eeue is daar, en word daar steeds, miljarde woorde oor die kerk geskryf – wie en wat is hierdie kerk waarin ons glo? Definitief nie ‘n gebou met mure, dak en vensters nie. Die Bybel stel dit duidelik dat die kerk die bruid van Christus is (Openbaring 21:9), die liggaam van Christus (Romeine 12:5) en volgens ons teksververs ‘n “gebou” waarvan Jesus self die hoeksteen is. Almal wat in Jesus die Verlosser glo, is die kerk.

Die kerk waarin ons glo, is een. Lees Efesiërs 4-6. Hoe kan ons dit sê wanneer daar, selfs in die kleinste dorpie, verskillende kerkgenootskappe is? Die antwoord is dat solank ons opreg bely dat ons in God die almagtige Vader en in Jesus Christus sy eniggebore Seun glo, is ons een. Dit is wanneer die gebou, die predikant, die dankoffers of wat ook al die fokuspunt word, dat Satan lag, want dan word eenheid verbreek.

Die kerk is heilig. In Efesiërs 1:4 lees ons “So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees.” Die woord heilig beteken in hierdie sin om aan God toegewy te wees, en volgens ons teksvers is ons die kerk. Wanneer ons sê ons glo in ‘n heilige kerk beteken dit dat ons ‘n groep is wat vir Hom afgesonder is, wat Hy uitgekies het om tot sy eer te leef.

Die kerk is universeel (algemeen). Wat beteken dit? Die kerk reageer op ‘n universele behoefte – almal het gesondig (Romeine 6:23); dit verkondig die antwoord vir almal – Christus het vir almal gesterf (1 Petrus 1:3:18); dit het ‘n universele mandaat – “Gaan uit die wêreld in …” (Markus 16:15); dit het universele lidmaatskap – enigiemand wat Jesus se stem gehoor het (ongeag ras, kultuur, taal) en Hom aangeneem het, is lidmaat van hierdie kerk (Openbaring 3:20); die kerk kyk vorentoe na ‘n universele voleinding – die tyd sal aanbreek dat al die lidmate van die kerk God saam in dieselfde plek sal loof en prys (Openbaring 20).

Dit is belangrik om te onthou dat jou spesifieke kerkgenootskap, jou predikant, die mooi gebou, jou nie deel van die ware kerk maak nie. Hierdie lidmaatskap kom net deur Jesus as jou Verlosser aan te neem. Die keuse is joune.

Gebed: Hemelse Vader, dankie dat ons deel van u heilige, algemene Christelike kerk kan wees. Help ons om mense se verlorenheid raak te sien en hulle van u liefde en genade te vertel. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS