Bible Society of South Africa

Die mens en sy liggaam - 27 Julie 2023

Deur Mims Turley

Bybelteks(te)

14Ek wil U loof,

want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.

Wat U gedoen het,

vervul my met verwondering.

Dit weet ek seker:

PSALMS 139:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons leef in ‘n tyd waar die menslike liggaam verheerlik word. Baie advertensies gee die idee dat byvoorbeeld net maer mense mooi is, of dat daar ‘n plan gemaak moet word met jou te groot ore of die baie plooie wat met die ouderdom kom. Baie spasie in die media word afgestaan aan produkte wat moet verseker dat ons aan al hierdie norme voldoen.

Daar is niks verkeerd daarmee om jou liggaam goed te versorg nie, dit is na alles ‘n tempel van God waarin sy Gees woon. (1 Korintiërs 3:16) Ons teksvers sê dat die psalmdigter reeds eeue gelede besef het hoe wonderbaarlik ons liggame is. Moderne wetenskap verstaan die liggaam beter as in koning Dawid se tyd, maar iets soos die brein, sal neuroloë vir jou sê, verstaan niemand al volkome nie. Dit laat mens in verwondering.

Ons liggame is noodsaaklik vir ons verblyf hier op aarde. In Spreuke 23:20 lees ons dat ons nie ons liggame moet blootstel aan te veel alkohol en kos nie – aan niks waarvoor die liggaam nie bedoel is nie, want dan sal ons die negatiewe gevolge moet dra. Ons moet ons liggame versorg en dit tot eer van God gebruik. Paulus skryf: “Broers, op grond van die barmhartigheid van God roep ek julle dus nou op om julle liggame beskikbaar te stel as ‘n offer wat lewend en heilig is, en vir God aanneemlik. Dit is julle sinvolle godsdiens.” (Romeine 12:1)

Hierdie liggame wat op ‘n “ontsagwekkende, wonderbaarlike wyse gemaak is” is egter nie vir ewig nie, dit gaan sterf en vergaan. In Jakobus 4:14 lees ons: Hoe is julle lewe dan? Dit is maar ‘n miswolkie, wat net vir ‘n kort rukkie verskyn en dan weer verdwyn,” en, sê die Prediker: “Alles kom uit die stof en alles keer terug na die stof.” (Prediker 3:20)

Hoe wonderlik dat ons weet dat die dood nie die einde is nie. Ons bely dat Jesus weer sal kom en kyk wat sê 1 Korintiërs 15:52-53 oor ons liggame op daardie dag: “‘n Basuin sal weerklink, en die dooies sal onverganklik opgewek word, en ons sal verander word. Want hierdie verganklike liggaam moet met onverganklikheid beklee word, en hierdie sterflike liggaam met onsterflikheid.”

Hoe ons onverganklike liggame gaan lyk, weet ons nie, net dat ons wel ‘n onsterflike, verheerlikte liggaam sal kry op daardie dag wanneer Jesus weer kom. Iets om na uit te sien.

Gebed: Hemelse Vader, dankie vir ons wonderbaarlike liggame wat U gemaak het. Help ons om uit te sien na die dag wanneer Jesus weer kom en ons onsterflike liggame sal ontvang. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS