Bible Society of South Africa

Wysheid - 29 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

20Wysheid is 'n vrou wat langs die straat staan en roep,

sy laat haar stem hoor op die stadspleine,

21sy roep bo die rumoer uit,

by die ingange van die stadspoorte sê sy wat sy te sê het:

SPREUKE 1:20-21AFR83Maak oop in die Bybelleser

In die laaste Vers-‘n-dag vir die maand wil ek graag terugkeer na waar ons begin het. Wysheid het ons toe gesien is die somtotaal van ‘n goed geleefde lewe. Ons het die afgelope vier weke ‘n groep uiteenlopende spreuke behandel. Hierdie spreuke het grootliks te doen gehad met ons alledaagse lewe en het vir ons praktiese riglyne gegee oor hoe om goed te leef. Die faktor wat hulle almal op die ou end saambind is die Wysheid. U sien ek gebruik “die” voor wysheid. Dit maak van die Wysheid ‘n persoon, want dit is hoe Spreuke oor wysheid praat.

In die spreuk van vandag word die Wysheid as ‘n vrou uitgebeeld wat oral teenwoordig is waar mense ook al bymekaarkom. Sy is op straat en op die stadspleine, dit wil sê die alledaagse lewe, daar waar mense rondloop en koop en verkoop, gesprekke voer en op pad is werk toe of na ‘n sportwedstryd of die teater. Sy is egter ook by die ingange van die stadspoorte. Dit was tradisioneel die plek waar oor ernstige sake gepraat en besluite geneem is. Daar het die oudstes van die stad hofsake aangehoor en regspraak gelewer.

Hier in die strate en op die pleine en by die poorte roep sy “opgewonde”. Dit kan ook vertaal word dat sy “hard” roep. Wysheid wil nie iewers wegkruip nie, inteendeel, wysheid moet haarself hoorbaar maak bo die rumoer van die alledaagse lewe waarmee mense besig is. Vir ‘n goed geleefde lewe is dit nodig dat ons as kinders van God ook bo die wêreld se lawaai oral wysheid moet verkondig.

Ek herhaal graag ‘n reëltjie uit die heel eerste dagstukkie, naamlik dat ware wysheid die bereidheid is om jou oop te stel vir God en ander mense, die bereidheid om te leer van God en van die lewe. Wanneer dit in my lewe waar is, kan ek oral waar ek met mense te doen kry opgewonde roep, solank ek die belangrikste van alles onthou. Laasgenoemde staan in Spreuke 2:6: “Ja, net die HERE gee wysheid, uit sy mond kom kennis en verstandigheid”.

Gebed: Hier aan die einde van nog ‘n maand bid ons dat U ons elke dag sal leer hoe om meer wys te wees en ook waar ons hierdie wysheid moet uitbasuin. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS