Bible Society of South Africa

Wat plant jy? - 3 November 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

2daar is 'n tyd om gebore te word, 'n tyd om te sterwe,

'n tyd om te plant, 'n tyd om plante uit te trek,

PREDIKER 3:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Van Genesis 1 af staan ons in verwondering oor die nuwe lewe wat daar in ‘n saadjie opgesluit is. Dat ‘n klein voorwerpie soveel potensiaal kan hê om na sy aard te groei, en van ‘n delikate blom tot ‘n reuse boom, te wees. Van die begin af het die Here ons as mense aangestel om planters te wees, medewerkers in sy skepping.

Galasiërs 6:7 herinner ons dat ons sal maai wat ons saai. Dit maak regtig saak watter tipe saad ons plant in die lewe. Jy kan nie spinasiesaad plant, en olywe verwag nie. Dit vra jou tyd, inspanning, sweet om iets te plant. Waarom dit nie goed doen nie? Dis natuurlik waar van soveel meer as tuinbou in ons lewens. Daar is geloof nodig om saad in die grond te plaas, en ‘n oes te verwag. Prediker 11:4 herinner “Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie.” Soms moet jy in geloof waag, om iets nuuts te begin. Om gereed te maak vir ‘n nuwe seisoen, en jou beste te gee in jou beplanning en voorbereidingswerk. Wie nie saai nie, sal nie oes nie. Daar is ‘n tyd om nuut te dink, en nuut te begin doen, met die beste saad wat jy in die hande kan kry.

So is daar ook ‘n tyd om op te hou. Daar is ‘n tyd om plante uit te trek. Goeie saad het dalk klaar hul vrug gelewer, en dan is dit nodig om kompos te maak van die plant, om voor te berei vir die volgende seisoen. Daar is dinge in ons lewens wat dalk klaar hulle doel gedien het. Nou is dit tyd om aan te beweeg.

In jou groeiseisoen het daar dalk onkruid opgekom tussen jou goeie saad. Dit wat nie tot jou of jou naaste se voordeel is nie. Dit steel die groeikrag van die goeie saad, sonder om ‘n bydrae te lewer. Dit is belangrik om ‘n oog op jou lande te hou, en onkruid en indringerplante uit te trek.

In jou geestelike lewe is dit net so noodsaaklik om slegte saad te vernietig. In ons harte kom daar soms giftige vrugte voor, onder andere woede, haat, jaloesie … (Galasiërs 5:19). Hierdie vrug vernietig ons lewens. Raak ontslae daarvan, trek dit uit dat jou lewe kan blom vir die Here!

Gebed: Here, dankie dat U soveel lewe in ‘n enkele saadjie geplaas het. Wys my wat die regte saad is om in my lewe te plant, dat dit kan groei en vrug dra tot u eer. Wys ook die onkruid in my lewe vir my uit, dat ek dit kan uittrek om nog meer te floreer in my reis saam met U! Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS