Bible Society of South Africa

Mooi so goeie en getroue dienskneg - 7 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

2Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is.

DIE OPENBARING 2:2AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jesus ken sy gemeentes, wie hulle is en wat hulle doen en in die sewe briewe wat Hy na hulle stuur, noem Hy by vyf gemeentes dinge wat prysenswaardig is. Die dinge word weliswaar van die spesifieke gemeentes gesê, maar is natuurlik ook waar van individuele gelowiges, want die kerk en gemeente bestaan alleen daar waar gelowiges in die Naam van die Here bymekaar kom.

Hierdie dinge is kentekens van die ware kerk en daarom moet elke kerk en haar lidmate telkens weer vra of Jesus dit ook by hulle kan waarneem. Wat “beïndruk” vir Jesus? Beslis nie mooi geboue en groot dankoffers nie. Wat Jesus by gemeentes en lidmate raaksien is sterk geloof en liefde vir God en vir ons naaste.

Ons sê tereg dat jou dade jou nie in die hemel kan bring nie, net God se genade, maar dit is nie ‘n verskoning om geestelik agteroor te sit nie. Jesus sien juis raak daar waar gemeentes en lidmate besig is met koninkrykswerk. Hy sien juis dade en inspanning en volharding raak. Die 1933/1953-vertaling stel dit mooi wanneer ons lees van “onvermoeide arbeid”.

Die volgende kenmerk wat vir Jesus belangrik is, val dalk vir ons effens vreemd op die oor. Ons het so gewoond geraak aan ‘n samelewing waar ons almal ter wille wil wees, dat ons hierdie woorde vergeet. Tog sê Jesus baie duidelik dat Hy eintlik verwag dat slegte mense nie geduld sal word nie. Moet ons dan nie juis probeer om slegte mense tot bekering te bring nie? Natuurlik, maar dit beteken nie dat ons maar die sonde goedsmoeds sal goedkeur nie. Aansluitend hierby moet die leuenagtige “apostels”, dit is mense wat afwyk van die ware leer aangaande Jesus Christus, ook nie maar ter wille van goeie gesindheid en menseverhoudings toegelaat word om hulle afwykende leerstellings te verkondig nie.

Ons mag nie mense veroordeel nie. Die voorbeeld het Jesus self op baie plekke vir ons gestel, maar Hy het ook nie toegelaat dat daar ‘n skewe beeld van sy boodskap verkondig word nie. Dit vra hy ook van ons.

Gebed: Liewe Vader, help ons om niemand te veroordeel nie, maar maak ons ook sterk in ons geloof en help ons om dit wat ons glo openlik te verkondig.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS