Bible Society of South Africa

Jesus verwag van ons … - 8 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

Die boodskap aan Smirna

8Skrywe aan die leraar van die gemeente in Smirna:

So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het:

DIE OPENBARING 2:8AFR83Maak oop in die Bybelleser

Wanneer Jesus met die gelowiges in die gemeentes praat, doen Hy dit vanuit die posisie as oorwinnaar oor die dood. Vir die gelowiges van daardie tyd was die moontlikheid om ter wille van hulle geloof doodgemaak te word baie groot. Dwarsdeur alles loop die gedagte van verdrukking en vervolging, nie net deur die Romeinse regering nie, maar selfs ook deur die Jode.

Soos ons gister gesien het, wys Jesus op baie positiewe dinge wat Hy ten spyte van hulle moeilike omstandighede, wat selfs die dood kon beteken, by die gemeentes en gelowiges raaksien. Vandag kyk ons na nog van die positiewe dinge omdat dit ook vir ons as gelowiges in 2023 belangrik is om so te leef. Soos wat die gedagte van vervolging en verdrukking dwarsdeur loop, so loop ook die goue draad van geloof en volharding.

In Pergamum het die gelowiges in uiters moeilike omstandighede geleef, so erg dat Jesus dit selfs beskryf as “daar waar die troon van Satan is”. (Openbaring 2:13) Een van hulle met die naam Antipas is reeds doodgemaak, maar ten spyte daarvan hou die gelowiges “aan my Naam vas” en het hulle nie hulle geloof in Jesus verloën nie.

In Tiatira vind Jesus baie wat navolgenswaardig is, ook vir ons vandag. Soos by die ander gemeentes vind Hy hier geloof en volharding, maar Hy sien ook dat hulle liefde uitleef en diensvaardig is. In hierdie gemeente word dit wat kenmerkend van elke gemeente en gelowige moet wees uitgeleef, liefde en diens.

Aan die laaste gemeente wat lof ontvang, Filadelfia, skryf Jesus: “Al is jou krag min, het jy vasgehou aan my woord, en het jy my Naam nie verloën nie.” (Openbaring 3:8b) Treffend dat die belangrikste boodskap deurlopend is dat die kerk en die gelowiges deur al die verdrukking bly volhard in die geloof in Jesus.

Hoe goed sal dit nie met die kerk en gemeentes van Jesus in ons land en die wêreld gaan as ons almal elke dag bly vashou aan, en bly volhard in die ware geloof nie.

Gebed: Help my om deur alles heen net aan U vas te hou. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS