Bible Society of South Africa

Boodskappe aan die kerk - 6 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

Die boodskap aan Efese

1Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese:

So sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan:

DIE OPENBARING 2:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

y elkeen van die briewe aan die sewe gemeentes kom bogenoemde aanhef voor, maar telkens met ‘n ander openbaring aangaande die Een wat die boodskap stuur. Jesus noem homself byvoorbeeld die Eerste en die Laaste en die een wat die swaard met die twee snykante het.

Hy is ook die Seun van God wie se oë soos vuur vlam en die een wat die sewe Geeste van God het. Laasgenoemde wys op die Heilige Gees en ons moet nie verstaan dat daar sewe Geeste is nie. Sewe is bloot die volmaakte getal en wys op die volmaaktheid van die Heilige Gees. Hy is ook die Heilige wat die sleutel van Dawid het. Die sleutel is die simbool van mag en hierdeur word die hemel oopgesluit vir ons elkeen wat in Jesus glo. Heilig beteken om vir God opsy gesit te word. Deur Jesus word ons ook heilig, behoort ons aan God.

In die laaste brief wat aan Laodisea geskryf word, is Hy “… die Amen, die getroue en ware getuie, die begin van God se skepping.” (Openbaring 3:14) Omdat die briewe bedoel was om deur al die gemeentes gelees te word en ook deur die kerk van al die eeue, openbaar Jesus deur hierdie verskillende tipering van Homself hoe groot en almagtig Hy is. Hy omsluit tyd en ruimte wanneer Hy aandui dat Hy saam met God by die skepping betrokke was (Lees ook Johannes 1:3), maar Hy is ook die voleindiging, die “Amen”. Hy is inderdaad die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste. Wat kan die wêreld ons aandoen as ons Here Jesus van begin tot in ewigheid by ons is?

So kan ons elkeen van die dinge wat Jesus oor homself openbaar vandag nog van toepassing maak op die kerk, maar ook op ons eie lewens en dit is hierin wat daar ook vir ons elkeen baie vertroosting lê in ons deurmekaar wêreld.

Gebed: Saam met die digter van Psalm 146 wil ons ook sê: Prys die Here! Ek wil die Here prys. Ek wil die Here prys so lank ek lewe. Dankie dat U vir altyd by ons sal wees. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS