Bible Society of South Africa

Maak die wêreld beter: Wees eerlik – en sag met jouself - 31 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

NAHUM 1

7Die Here is goed,

Hy is 'n toevlug in tyd van nood,

Hy sorg vir dié wat by Hom skuil.

“Hoe gaan dit?”
“Goed dankie en met jou?”
“Goed dankie.”

Ons almal sê ’n gedeelte van dié rympie ten minste een of twee keer per dag. Minimum.

Kom ons wees eerlik, die eintlike antwoord is nie altyd “goed dankie” nie, né?

Ek en my man het dikwels gesprekke oor hoe wonderlik dit is wanneer mense werklik belangstel in jou antwoord en hoe ’n mens nie altyd weet waardeur ander mense gaan nie omdat baie van ons sommer net uit gewoonte sê “goed dankie”.

Op my Matthew West-speellys hoor ek toe nou die dag dié lied, “Truth be told”, wat juis gaan oor hoe dinge nie altyd is soos wat dit op die oog af lyk nie. Dit het my aangegryp.

Party van ons dra ons hart op ons mou en vertel graag hoe dinge régtig gaan. Dis wel nie vir almal ewe maklik om eerlik te wees oor hoe dit gaan nie. Sommige mense is meer privaat en sommige voel dalk hulle wil nie ander met hul probleme opsaal nie. En in ’n samelewing waar sosialemedia vir baie mense koning kraai, raak dinge nog meer gekompliseerd omdat ons gedurig vaskyk in vriende,vreemdelinge en celebs se “perfekte” foto’s van mooi huise, soet kinders, gedissiplineerde oefenroetines, fikse lywe, lekker kos, modieuse uitrustings en heerlike partytjies.

Dis dan nogal moeilik om jouself nié met ander se perfekte prentjies te vergelyk nie. Dis moeilik om dan eerlik te wees en te sê: Ek is bekommerd. Ek kry swaar. Ek is bang.

Ek glo wel eerlikheid is altyd ’n goeie idee. Eerlikheid help ons om oor die moeilike dinge te praat en mekaar werklikwaar te help en te ondersteun. Eerlikheid gee verhoudings diepte. Maar ek weet dis nie vir almal ewe maklik om oop te maak en met ander mense eerlik te wees oor hul swaarkry en worstelinge nie.

Dis hoekom ek jou vandag wil herinner dat jy jou hart kan oopmaak en met God kan praat oor jou stryd, wat dit ook al is. Dis bevrydend én vertroostend om met Hom te praat en te sê waaroor ons bekommer, wat ons pla en hoe ons voel oor die lewe.

Ons hoef nie vir God te sê “goed dankie” nie. Hy ken ons harte.

En weet jy wat? Dis ook okay as alles nie altyd okay is nie.

Gebed: Here, dankie dat ek met U kan praat. Dankie dat ek eerlik kan wees oor hoe dit met my gaan. Help my om ook op die regte tyd, met die regte mense my hart te deel, sodat ek vir ander mense kan wys dat dit okay is as alles nie altyd okay is nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS