Bible Society of South Africa

Moenie vir mense se applous lewe nie - 1 November 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 6

As julle armes help

1“Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle Vader wat in die hemel is nie.

Goeiemore liewe vriende, ons lees vandeesmaand verder aan Jesus se Bergrede, wat ons vind in Matteus 5-7. Wanneer Jesus met sy aardse bediening begin, is die mensdom dringend op soek na ‘n lewende verhouding met God. Daar was wel baie godsdiens aan die gang tydens die aardse bediening van Jesus. Almal in Israel het geweet van die Fariseërs, ‘n party van godsdienstige leiers wat gedink het hulle het die enigste manier beet om God te dien. Hulle het dit gedoen deur hulle interpretasie van die Wet baie streng af te dwing op almal. Hulle was altyd in die publieke oog besig om te preek, te bid, te vas, en te vermaan.

Die Matteus evangelie vertel van baie ontmoetings tussen Jesus en die Fariseërs. Keer op keer, veral in hierdie hoofstuk, wys Jesus op die leegheid van hulle sisteem. Hulle was so vasgedraai in hulle eie reëls dat hulle die lewende verhouding met God verloor het langs die pad, en dit nie eens agtergekom het nie. Jesus sou hulle dikwels as skynheilig beskryf, witgepleisterde grafte – buite mooi, van binne dood (Matteus 23:27-28).

Wanneer Jesus se bediening begin, dan bring dit nuwe lewe. Ons Here Jesus is besig om die mensdom te leer van die beter alternatief, ‘n lewe in die koninkryk van God as sy dissipels.

Die Fariseërs het hulle godsdienstige pligte in die openbaar gedoen om deur mense raakgesien te word, en deur mense gevrees te word. Jesus waarsku: so ‘n openbare vertoon is glad nie wat God wil hê nie!

Die Here beloon mense wat Hom liefhet, en hulle lewenspad saam met Hom stap. Hulle doen dit nie om raakgesien te word of geprys te word deur enige mens nie. Hulle wil die Here eer in elke dag, in elke besluit. Sonder om ‘n ophef daarvan te maak leef hulle lewens van toewyding en gehoorsaamheid aan Hom. Dit is die lewe wat God raaksien, die lewenswyse wat Hy graag beloon.

Dit is waar ons ook vandag die ware lewe vind. Ons Here Jesus wil so graag die lewenspad saam met elke gelowige stap. Hy lei ons so graag in die dieper ervaring van sy liefde en genade in. Maar Hy doen dit nie in die openbaar om deur mense raakgesien te word nie. Daardie groot ervarings vind ons in die stilte van ons binnekamer saam met Hom. Kom reis hierdie maand saam, en kom ontdek die dieptes van sy liefde in sy Woord.

Gebed: Here Jesus, U is sagmoedig en nederig van hart. U nooi vir my om my lewenspad saam met U te kom stap. U nooi my vir ‘n dieper wandel saam met U. Nie om deur mense raakgesien te word nie, maar om die rykdom van God se genade intens in my lewe te beleef. Dankie dat U my raaksien, en uitnooi om meer te kom beleef. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS