Bible Society of South Africa

Maak die wêreld beter: Hou vas aan die mooi - 30 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

PSALMS 139

14Ek wil U loof,

want U het my op 'n wonderbaarlike wyse geskep.

Wat U gedoen het,

vervul my met verwondering.

Dit weet ek seker:

PSALMS 139:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die skakerings van oranje, geel en pers wanneer die son sak. Die reuk van water wat die droë grond tref wanneer dit vir die eerste keer in ’n lang ruk reën. Die gerammel van donderweer. Die unieke reuk van ’n broodboom, of jasmyn. ’n Klein dogtertjie se opgewekte lag kort voor slaaptyd. Die klank van die see se branders en die gevoel van ’n vars seebries teen jou gesig. Die saamwees en chaos wanneer familie saam kuier. Dís van my gunstelingdinge.

Daar is baie dinge wat mooi is in hierdie wêreld van ons. Dis dikwels eenvoudige dingetjies en oomblikke – die soort oomblikke waarvan die lewe gemaak is.

Maar ja, die lewe bestaan helaas ook uit chaos, hartseer, frustrasie en seerkry. Die lewe is nie eendimensioneel nie en ons leef in ’n gebroke wêreld. Dis daarom nogal maklik om vas te kyk in ons seer en stukkende samelewing propvol probleme.

Ons kan egter elke dag kies waarop ons wil fokus. En iets waaraan ek onlangs opnuut herinner is, is dat ons keuse ook ’n impak het op die mense rondom ons.

Wanneer ek vasklou aan negatiewe emosies, steel dit my vreugde. Ek raak so vasgevang dat ek nie meer lag oor ander mense se lawwe grappe nie. Alles pla my, alles voel soos ’n probleem of ’n krisis. Ek loop met ’n swarigheid rond en die wêreld raak vir my ’n mismoedige plek. En kom ek erken dit maar – ek is nie juis ’n sonstraal as ek só voel nie.

Ek glo daarom ons moet elke dag probeer om vas te hou aan die mooi wat daar in ons wêreld is. Ons moet die positiewe, opbouende stories met mekaar deel en aanhou om mekaar te bemoedig. Ons moet vashou aan die spesiale oomblikke saam met geliefdes en ons moet die natuur bewonder – selfs al is dit ’n enkele mooi blom of boom in jou tuin.

Wanneer ek aan die mooi dinge vashou, voel ek ligter en gelukkiger. En dan voel die wêreld, m‎y wêreld, soos ’n beter plek – en dit gee my moed om aan te hou om die wêreld ’n beter plek te probeer maak vir ander rondom my.

Gebed: Vader, ons leef in so ’n gebroke wêreld vol seer. Dankie dat daar ook, ten spyte van die moeilike en slegte dinge, ook mooi en positiewe dinge is. Help my om vas te hou aan die dinge wat goed gaan, reg loop en mooi is, sodat ek die moed kan hê om aan te hou probeer om die wêreld ’n beter plek te maak. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS