Bible Society of South Africa

Maak die wêreld beter: Kyk mooi na ons aarde - 28 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

GENESIS 1

26Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.”

GENESIS 1:26AFR83Maak oop in die Bybelleser

Een van die goed waaroor ek baie geesdriftig is, is die beskerming van ons planeet. Dis nie net omdat my werk my deur die jare blootgestel het aan die effek en kommerwekkende werklikhede van besoedeling nie, maar ook omdat ek grootgemaak is met die wete dat ’n mens moet omsien na dit wat jy het.

Ons leef in ’n tyd waarin ons baie gewoond geraak het aan kits-oplossings. As iets nie meer werk nie, vervang ons dit. Jy klim gewoon in jou kar en gaan koop ’n nuwe ding as die ou een gebreek het – of nóg makliker, jy bestel dit aanlyn en vanmiddag of môre het jy ’n nuwe een sonder om te sukkel. Dis maklik en soms sommer spotgoedkoop. Met nuwe modes en tendense gooi ons maklik uit om plek te maak vir iets wat nuwer en mooier is.

Die probleem is egter dat ons nie ’n ander aarde het wat ons tuiste kan wees nie. Ons het net die een blou planeet wat presies ver genoeg van die son af is. Dis daarom vir my baie frustrerend en hartseer as ek sien hoe ons mooi planeet verniel word. En dis ons skuld. Dis mense wat die aarde verniel. Die ironie is egter dat ons dit dikwels doen sonder dat ons daaraan dink of dit so bedoel.

Ek dink wel dis tyd dat ons opnuut na ons lewens gaan kyk en begin dink oor watter klein dingetjies ons kan doen om te help om beter na ons aarde te kyk. Ons kan nie almal ons skouers optrek en dink die visse en plastiek in die see is nie ons verantwoordelikheid nie.

Wat gebeur as almal net heeltyd hul skouers optrek? Niks.

Ons hoef onsself nie aan bome vas te ketting of met plakkate te betoog om ’n verskil te maak nie. Daar is ’n klomp klein dingetjies wat ons kan doen om ons aarde beter op te pas. God het immers van die begin af gevra dat ons na hierdie wonderskone wêreld moet kyk. Dis letterlik ons eerste opdrag.

Gebed: Here, werk in mense se harte sodat hulle sal help om beter na ons planeet te kyk. Vergewe ons omdat ons dit nie doen soos U gevra het nie. Help my om bewus te wees van die aarde – die plante en diere. Help my om die aarde beter op te pas en ’n verskil te maak deur die keuses wat ek maak. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS