Bible Society of South Africa

Maak die wêreld beter: Doen iets vir iemand – sommer net - 29 Oktober 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

JOHANNES 3

16“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.

JOHANNES 3:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons is nie almal in hoë politieke posisies waar daar oor wette besluit word nie. Ons is nie almal grootkoppe in magtige maatskappye wat belangrike besluite neem en ’n impak het op duisende mense se lewens nie. Nee, meeste van ons is maar net doodgewone mense sonder een of ander openbare platform of groot invloed. Of wel, dis wat ons dink.

Ons is almal verkeerd.

Ons elkeen se pad kruis daagliks met ’n klomp verskillende mense. Dis dalk elke dag dieselfde mense. Dis dalk elke dag vreemde mense. Dis dalk mense wat jy nooit ooit weer gaan sien nie. En ons het elkeen ’n rol in ons geliefdes se lewens.

God het mense lief, daarom het Hy Jesus gestuur om ons te kom red.

Ons kan elkeen iets doen en optree op ’n manier om God se liefde vir mense uit te leef en die wêreld beter te maak – selfs al is dit net vir ’n handjievol mense.

Praktiese hulp soos vrywilligerswerk of skenkings aan verdienstelike organisasies kan ’n verskil maak. In jou werkplek kan jy ’n mentor wees vir iemand wat kan baat by jou kennis en ervaring. Deur bloot te luister en empatie te hê vir iemand wat deur ’n moeilike tyd gaan, kan jy ’n verskil maak in daardie persoon se lewe. Ons kan plaaslike en klein ondernemings ondersteun. Ons kan iemand wat by die werk uitgesluit en eensaam voel, ingesluit laat voel.

Daar is baie dinge wat ons as Christene elke dag kan doen om die wêreld stukkie vir stukkie beter te maak. Dis dikwels klein gebare, dinge wat jy nie eers dink so groot verskil gaan maak nie, wat iemand se dag kan ophelder of iemand se lewe ’n bietjie beter kan maak.

Die ding is, ons weet nie altyd watse worstelinge die mense rondom ons het nie en ons gaan nie altyd weet tot watter mate ons aksies ’n verskil maak nie. Die belangrikste is egter om nooit op te hou om te probeer nie.

Gebed: Here, help my om my talente en tyd te gebruik om ons gebroke wêreld ’n beter plek te maak. Help my ook om te onthou dat geen gebaar te klein is nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS