Bible Society of South Africa

Los die verlede – om vryheid te ervaar – 24 Januarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

22Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis,

hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke.

Kom terug na My toe,

want Ek het jou verlos.

JESAJA 44:22AFR83Maak oop in die Bybelleser

1Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder 'n slawejuk laat indwing nie.

GALASIËRS 5:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

13Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is.

FILIPPENSE 3:13AFR83Maak oop in die Bybelleser

In verlede week ontvang ek ’n e-pos van ’n leser wat skryf: “Ek sukkel om my man se dood te verwerk. Hy het in Desember sy eie lewe geneem. Hy was 48 jaar oud. Ons besef nou dat sy besigheid finansiële uitdagings ervaar het. Ek sukkel ook om myself te vergewe. Op ons laaste dag saam het ons ‘n argument gehad en in aparte kamers geslaap. Die volgende oggend het hy ons seuntjie gegroet en ek het deur die venster gestaan en kyk hoe hy wegry. Hoekom het ek nie vroeër sy depressie opgemerk nie? Almal sê dis nie my skuld nie, hy was siek, maar ek kan nie anders as om sleg te voel nie. Dit voel asof geen hulp werk nie …”

My hart gaan uit na hierdie leser. Haar e-pos is ’n wekroep vir ons almal om meer sensitief te wees teenoor ons naastes wat dalk geweldig swaarkry. Wat die selfverwyt betref … PASOP.

Die vyand loop rond soos ‘n brullende leeu. Hy is op soek na geleenthede (in elkeen van ons se lewens) om ons van ons vreugde en vrede te beroof. Sodra hy opmerk dat ons skuldig of skaam voel oor iets, slaan hy toe. Hy sit ’n swaar ysterbal om ons enkels in die hoop dat die skuldgevoel ons pootjie en ons spoed breek. Hy sal alles in sy vermoë doen om te keer dat ons ’n lewe in oorvloed smaak waarvoor Jesus vir ons gesterf het.

In Jesaja 44:22 sê God: “Ek het jou oortredinge, jou sondes, uitgewis, hulle het verdwyn soos wolke, soos miswolke. Kom terug na My toe, want Ek het jou verlos.” In Galasiërs 5:1a lees ons: “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees.” En in Filippense 3:13 staan geskrywe: “… een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.” (1983-vertaling)

Wanneer ons berou het oor wat in die verlede skeefgeloop het, vergewe God ons. Hy knip die ysterballe van ons enkels af sodat ons met selfvertroue na die wenstreep kan hardloop. Jesus het ons vrygemaak om waarlik vry te wees. Mag ons daardie vryheid aanvaar. Sterkte.

Gebed: Vader God, dankie dat U my vrymaak wanneer ek berou het oor enigiets uit my verlede. Help my asseblief om u vrymaking te aanvaar en sonder “ysterballe” die toekoms tegemoet te stap. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS