Bible Society of South Africa

Jesus word gebore - 12 Desember 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

LUKAS 2

6Terwyl hulle daar was, het die tyd gekom dat haar kind gebore moes word.

Jare gelede het ek ‘n treffende gedig van Eveleen Castelyn, genaamd “Van Kersfees tot Mei”, gelees. Ek sou graag die hele gedig wou aanhaal, maar vanweë beperkte ruimte gee ek net die eerste twee strofes wat op Kersfees betrekking het.

“in Desember is Jesus gebore en hulle het Hom toegedraai in geskenkpapier en Hom neergelê in die supermark – ek het ‘n boom versier met liggies en engeltjies en Hom uitgenooi na ‘n Kersmaal van kalkoen en wyn maar Hy het weggevlug na die woestyn.”

In die gedig gee Castelyn vir ons ‘n blik op die gekommersialiseerdheid van Kersfees. Vroeër jare het ‘n mens hier van middel Desember Kersmusiek in die winkels gehoor en is die Kersversierings aangebring. Nou kan jy reeds vanaf November nie wegkom van oorverdowende Kersliedere en oormatige versierings in selfs die kleiner winkels nie. Die herdenking van Jesus se geboorte is die supermark se winsgewendste tyd. Die feit dat dit so is, is ongelukkig ons eie skuld. As ons nie so rojaal koop nie, sal Kersfees nie ‘n fees van oordaad wees, sodat Jesus na die woestyn toe moet wegvlug nie.

Ons as gesin hou baie van Kersfees en ons koop graag geskenke vir mekaar. Ons versier die huis en maak graag ‘n spesiale Kersete en daar is vir my min verhale so mooi soos verhale rondom Kerstyd. Ek het onlangs weer ‘n ou Hollandse Kersverhaal van Karel Kerstmis besonders geniet, so moenie dink ek is gekant teen alle “wêreldse” dinge wat met Kersfees gepaard gaan nie. Tog het Kersfees nog altyd ‘n baie spesiale karakter vir ons.

Kersfees moet ‘n vreugdefees wees, maar daar moet ‘n sekere ingetoënheid wees sodat ons nooit vergeet waaroor dit regtig gaan nie. Soos ons in ‘n vroeëre dagstukkie gesien het, is die “Kers” in Kersfees tog niemand anders nie as die Seun van die Lewende God.

Gebed: Ons bid dat U ons sal help om u verjaardag te vier met die nodige eerbetoon. Gebruik ons ook hierdie Kersfees om mense wat minder as ons het iets te laat ervaar van Jesus se feesdag. Amen

Bible Society of South Africav.4.26.9
VOLG ONS