Bible Society of South Africa

Doen meer as wat verwag word tot eer van die Here - 25 Junie 2024

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

MATTEUS 5

40As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere. 41As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. 42Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen, nie afwys nie.”

MATTEUS 5:40-42AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ons Here Jesus het ons ‘n nuwe manier van lewe kom leer. In die Bergrede leer Hy ons om op ‘n nuwe manier te dink, en op te tree teenoor ons naaste. Van nature is ons geneig om in ons gemaksone te lewe. Ons probeer die minste moontlike energie spandeer om die beste moontlike resultate te behaal. Ons vra van nature heel eerste: wat is daarin vir my? Wat kan ek uit die transaksie kry?

Om ‘n dissipel van Jesus te wees, vra om jouself te verloën, en jou eie kruis op te neem (Lukas 9:23-27). Die eerste voorbeeld vandag is om nie altyd so gesteld te wees op ons regte nie. Volgens Joodse reg kon iemand gedagvaar word vir sy onderkleed as betaling van skuld, maar nooit vir sy bokleed nie. Jesus sê hier om verder te gaan as die minimum wat die wet vereis, om jou naam skoon te hou.

In die Romeinse Ryk kon ‘n soldaat enige persoon langs die pad stop en van hom vra om sy vrag een Romeinse myl te dra, maar nie verder as dit nie. Dit was natuurlik baie ontwrigtend vir die persoon wat so ingesleep is om diens te verrig. Jesus sê: aanvaar die ontwrigting en gaan selfs verder – doen meer as wat verwag word met ‘n positiewe gesindheid. Hierin lê een van die sleutels tot sukses in ons lewens. Daar is dikwels take of verpligtinge wat ons nie baie lus is om te doen nie. Maar om dit eerder as ‘n getuienis van die Here se goedheid te sien, die feit dat daar ‘n geleentheid is en jy gesond genoeg is om dit te doen, maak ‘n groot verskil! Mense sien jou gesindheid raak, en wonder wat jou motiveer om sleurwerk met vreugde te doen. Dis die geleentheid om uit te staan, en van die wêreld ‘n beter plek te maak. Dit is die werkers wat die tweede myl loop, wat vinniger bevordering in die werkplek kry.

Jesus se opdrag om iemand nie af te wys wanneer hulle jou hulp vra nie, getuig van ‘n persoon wat nie net vir homself lewe nie. Wanneer jy meer as iemand anders in die lewe ontvang het, en daardie persoon het nood, dan is jy in die posisie om ‘n instrument van versorging in God se hand te wees. Iemand wat vir homself lewe, klou alles vas wat hy het. Iemand wat vir die Here lewe, leef met oop hande, hy ontvang die seën van die Here in sy lewe, en deel dit ook vrylik aan ander uit.

In al drie hierdie voorbeelde vandag wil dit ons leer dat dissipels van Jesus verder gaan as wat verwag word, meer gee as wat vereis word, en vrylik die goedheid van die Here met ander deel. Iemand wat so lewe, maak ‘n verskil in sy gemeenskap. Dit ontsluit ‘n geleentheid tot getuienis, dit maak dit geloofwaardig wanneer jy sê die Here is goed vir jou, en jou optrede teenoor ander bewys dit.

Gebed: Here, baie dankie dat U goed is vir my. Dankie dat U vir my sorg, en dankie vir die gesondheid wat ek van U ontvang het. Help my om nie met toe hande te lewe nie, maar my energie, my aandag en my goedere te deel waar daar nood is. Laat my lewe ‘n getuienis wees van u goedheid! Amen

Bible Society of South Africav.4.23.0
VOLG ONS