Bible Society of South Africa

Leer om te laat gaan - 22 Mei 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

5Vertrou volkome op die Here

en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.

6Ken Hom in alles wat jy doen

en Hy sal jou die regte pad laat loop.

SPREUKE 3:5-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

In ‘n wêreld waar selfstandigheid en onafhanklikheid belangrik is, is dit soms moeilik om die Here volkome te vertrou en ons planne aan Hom oor te gee. Ons vind dat ons soms op ons eie insigte en op die van ander steun, en op ons eie wysheid en perspektiewe staatmaak. Vandag se teksvers leer ons egter dat dit wys is om God volkome te vertrou en Hom te ken in alles wat ons doen.

Wat beteken dit om God te vertrou? Wanneer ons die Here ken in alles wat ons doen, nooi ons Hom om die middelpunt van ons lewens te word. Ons soek sy leiding in al ons besluite, verhoudings en strewes. Ons maak ons harte oop vir sy leiding en weet dat Hy ons die regte pad sal laat loop.

Wanneer ons die Here vertrou, moet ons ons eie beperkte insig laat vaar en ons vertroue in sy oneindige wysheid en leiding plaas. Vertroue in die Here is ‘n daad van oorgawe en ‘n besef dat Hy weet wat die beste vir ons is en dat sy planne ons eie oortref.

Vertroue in die Here beteken nie dat die lewe vry van uitdagings of onsekerhede sal wees nie, maar dit beteken dat ons ‘n anker in die storms het en ‘n kompas om rigting in die onbekende te gee.

Kom ons dink vandag na oor ons vertroue in die Here en evalueer dit opnuut. Maak ons staat op ons eie verstand, of vertrou ons volkome in sy wysheid en leiding? Vertroue in die Here is ‘n lewenslange reis, maar soos ons geloof groei sal ons sy getrouheid en die vrede wat alle verstand te bowe gaan, ondervind.

Gebed: Hemelse Vader, ek buig voor U met ‘n hart wat begeer om U volkome te vertrou. Help my om my eie insig en begrip te laat vaar en in U te vertrou. Wanneer twyfel en onsekerhede oor my pad kom, herinner my aan u getrouheid en die belofte dat U my op die regte pad sal lei. Ek vertrou in U, Here, en ek gee my lewe in u hande oor. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS