Bible Society of South Africa

Die beste planne - 23 Mei 2023

Deur Xanthe Hancox

Bybelteks(te)

9'n Mens beplan sy pad,

maar die Here bepaal hoe hy loop.

SPREUKE 16:9AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vroeër vanjaar moes ek ‘n groot geleentheid by my werk reël. Ek het ‘n duidelike visie gehad, elke deeltjie haarfyn beplan, en geglo dat ek alles in plek het. Toe ek egter met die taak begin, het onvoorsiene uitdagings na vore gekom. Ander lede van die belanningskomitee het op die laaste minuut verskillende prioriteite gehad en dit het gelyk of alles wat ek so versigtig beplan het, voor my oë in duie stort. Ek was gefrustreerd en mismoedig en het gewonder hoekom my pogings nie die verwagte resultaat gelewer het nie.

Dit is in tye soos dié dat Spreuke 16:9 mens daaraan herinner dat dit uiteindelik die Here is wat ons voetstappe bepaal.

Soos ‘n argitek planne optrek voordat hy ‘n gebou bou, of soos ek wat probeer om ‘n beplanningskomitee tot iets te laat instem, beplan ons ook ons lewens. Ons stel doelwitte, jaag drome na, en neem besluite gebaseer op ons eie insig. Dit is egter uiters belangrik om te besef dat ons planne ondergeskik aan God se volmaakte wil is. Hy weet wat vir ons voorlê en sy doel vir ons sal seëvier.

Alhoewel dit belangrik is om te beplan en proaktiewe stappe te neem, moet ons dit doen met ‘n ontvanklike hart, altyd gereed om oor te gee aan God se leiding. Sy rigting en leiding mag nie altyd aan ons verwagtinge voldoen nie, maar ons kan Hom vertrou om alles vir ons ten goede te laat uitwerk, of dit nou in ons professionele of persoonlike lewens is.

Kom ons gee vandag al ons planne oor aan die Here en vertrou Hom om ons voetstappe te bepaal. Kom ons soek sy wysheid en leiding, selfs wanneer ons eie planne wankel. Indien ons ons ontvanklike harte met sy doel versoen, sal ons vrede en versekering vind en sal ons besef dat sy weë hoër en sy planne groter as ons eie is.

Gebed: Genadige Here, ek kom tot U in nederigheid en in die wete dat my planne aan u gesag onderhewig is. Wanneer my eie planne in duie stort of daar onverwagte uitdagings is, gee asseblief aan my die geloof om u leiding te volg. Versoen asseblief my hart met u doel en gee aan my die moed om te volg waar U ook al mag lei. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS