Leef voluit: God se wysheid en die helder oggendlig - 17 Julie 2024
Deur Louise Gevers
Bybelteks(te)
SPREUKE 4
Die boek Spreuke, waaruit vandag se teksvers kom, is hoofsaaklik deur Salomo saamgestel en is ‘n skatkis vir diegene op soek na wysheid groter as hulle eie, sodat hulle hulle “lewensdae na waarde [kan] skat … sodat [hulle] ‘n hart vol wysheid kan verwerf.” (Psalm 90:12, 2020-vertaling)
Ons dink nooit aan Salomo as ‘n klein seuntjie nie, of hoe? Sal ons ‘n wyse persoon reeds op die ouderdom twee erken? Op dié ouderdom is kinders dikwels selfversekerd met ‘n oorentoesiastiese benadering tot die lewe, terwyl op die ouderdom drie, namate hulle hulle eie beperkings begin erken en die wêreld om hulle groter word, hulle meer omsigtig raak. Salomo, die wyse filosoof, moes egter ook êrens begin.
In die boek Spreuke vind ons bewyse van die onderrig van beide sy vader en moeder wat ‘n blywende indruk op hom gelaat het. Die belangrikste was egter ‘n besoek van God toe Salomo ‘n jong koning was. God het in ‘n droom aan hom verskyn en gesê: “Vra wat Ek jou moet gee.” (2 Kronieke 1:7) Salomo het geantwoord: “Gee my nou wysheid en kennis … want wie kan uit homself hierdie groot volk van U regeer?” (2 Kronieke 1:10)
God het hom toe geseën met “baie groot wysheid en verstand … en insig in soveel sake as wat daar sand aan die see is … meer wysheid … as al die ander mense, van die ooste af tot in Egipte. (1 Konings 4:29-30), omdat hy nie vir “rykdom, besittings, aansien of [sy] vyande se lewens gevra het nie, en ook nie ‘n lang leeftyd nie” (2 Kronieke 1:11). Tog het Salomo besef dat selfs met al hierdie wysheid, hy beperkinge gehad het en nie altyd die redes vir dit wat in die lewe gebeur, kon verstaan nie.
Die lewe het eers vir Salomo begin sin maak toe hy besef het dat, alhoewel dit vir niemand van nature kom nie, die verstandigste keuse is om God te eer en volgens sy wil te leef. Salomo se slotsom aan die einde van die boek Prediker (Lees Prediker 12:13) bevestig sy vertroue in die woorde van sy vader Dawid voor sy dood: “En jy, Salomo, my seun, jy moet die God van jou vader ken en Hom dien met jou hele hart en met ‘n gewillige gemoed, want die Here ondersoek alle harte en ken die bedoeling van elke gedagte. As jy na Hom vra, sal Hy Hom deur jou laat vind, maar as jy Hom verlaat, sal Hy jou vir altyd verwerp.” (1 Kronieke 28:9)
Dit is ‘n verrykende ervaring wanneer ons volwasse word in ons soeke na God, want wanneer ons kennis toeneem, ons begrip verdiep en ons deur jare van leer en ondervinding groei, word ons pad toenemend verlig. Wat ons gelees, oordink en geleer het, vloei saam en maak dan op ‘n nuwe manier sin van ons ondervindings.
Ek hou daarvan dat dit makliker is om die Bybel te verstaan as ons sien hoe die Ou en Nuwe Testamente mekaar komplimenteer en dit ons begrip en waardering vir God en sy weë verryk, terwyl die verskil tussen reg en verkeerd, wys en dwaas, lig en donkerte, hemel en hel, waar en vals, nederigheid en hoogmoed uitgelig word. Dit word deur die metafoor in ons teksvers beskryf – “die helder oggendlig wat groei en sterker word tot dit heeltemal dag is” en so die pad verlig.
Dit kan ons ondervinding wees, hoe lank dit ook al mag neem om daar te kom, as ons God ken en Hom met ‘n onverdeelde hart en verstand dien, en Hom elke tree van die pad vertrou.
Gebed: Genadevolle God, help my om altyd u wysheid en geregtigheid uit te leef en gee dat dit elke dag helderder deur my sal skyn. Amen