Bible Society of South Africa

Leef voluit: Geen gemor – die water is soet - 16 Julie 2024

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

EKSODUS 15

21Mirjam het vir hulle voorgesing:

“Sing tot eer van die Here

omdat Hy hoog verhewe is.

Perd en ruiter

het Hy in die see geslinger.”

EKSODUS 15:21AFR83Maak oop in die Bybelleser

EKSODUS 15

24Die volk het by Moses gekla: “Wat moet ons drink?”

EKSODUS 15:24AFR83Maak oop in die Bybelleser

‘n Wonderlike ding het pas gebeur, amper te goed om te glo. Die volk van Israel was nie langer die slawe van die tiran wat hulle onderdruk het nie. Hulle was bevry, vry om te ontdek wat God vir hulle beplan het. Hulle het wonderbaarlik droogvoets deur die Rietsee getrek terwyl ‘n sterk oostewind die water teruggehou het. Farao en sy leër wat kort op hulle hakke was, is egter deur die water verswelg en sou die Israeliete nooit weer gevange hou nie.

Na drie uitmergelende dae wat hulle sonder water deur die woestyn getrek het, het hulle opwinding egter gou verdwyn. Mirjam se blye lied wat weerklank in hulle harte gevind het en die vroue se vreugdevolle dans wat hulle nog in hulle verbeelding kon sien, was nie genoeg om die volk Israel tevrede deur die Surwoestyn op pad na die Beloofde Land te laat trek nie. Toe hulle uiteindelik, warm en dors, water kry by Mara, wat bitter beteken, kon hulle dit nie drink nie want dit was bitter en “die volk het teenoor Moses gemor”. (Eksodus 15:24)

Vir Moses, wat verantwoordelik was vir “ongeveer seshonderdduisend man te voet, afgesien van die afhanklikes” (Eksodus 12:37), asook vir die diere, moes die gemor verskriklik en sy nood en frustrasie ‘n realiteit gewees het. “Hy het na die HERE om hulp geroep; en die HERE het hom ‘n stuk hout gewys. Moses het dit in die water gegooi, en die water het soet geword.” (Eksodus 15:25a)

Stel jou voor, die blydskap van die mense toe hulle die skoon, soet water proe. Miskien het hulle toe weer besef hoe geseënd hulle was om uit die hand van die farao bevry te wees. Op daardie oomblik het die Here verder ingegryp en “… vir hulle ‘n vaste voorskrif en ‘n bepaling neergelê; daar het Hy hulle getoets” (Eksodus 15:25b) en om hulle getrouheid te vestig het Hy gesê: “As jy noukeurig luister na die stem van die HERE jou God, doen wat reg is in sy oë, aandag gee aan sy gebooie en al sy vaste voorskrifte nakom, dan sal Ek nie een van die siektes wat Ek op die Egiptenare gelaai het, oor jou bring nie; want Ek is die HERE wat jou gesond maak.” (Eksodus 15:26)

Getrou aan sy onfeilbare liefde, het God nie net die water soet gemaak nie, maar Hy het die bitter water ‘n draaipunt gemaak. Hy het aan hulle gewys dat as hulle Hom gehoorsaam, Hy hulle sal gesond maak en hulle vry hou van die siektes wat hulle in Egipte gesien het. En wat hulle nie geweet het nie, en nie te ver weg nie, was Elim, “waar daar twaalf fonteine en sewentig dadelpalms was” (Eksodus 15:27) waar hulle kon kamp – ‘n ware oase vir hulle moeë liggame.

Hierdie pragtige, aangrypende voorbeeld van God se holistiese sorg vir sy kinders geld ook vir ons, waar ons ook al is en in watter situasie ons ons mag bevind. Of ons nou dors is, deur die woestyn trek, bitter water by Mara drink, of in die skadu van Elim is, God weet dit en as ons Hom vra kan Hy “… deur sy krag wat in ons werk … oneindig meer … doen as alles wat ons bid of dink”. (Efesiërs 3:20)

Gebed: Liefdevolle Vader, vergewe my asseblief dat ek so baie kla en ek dikwels wanneer dinge verkeerd gaan fokus verloor. Ek vergeet u goedheid en soek dikwels êrens anders hulp terwyl net U die water soet kan maak. U is my Geneser; help my asseblief om na U te luister en u voorskrifte en gebooie te onderhou. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS