Bible Society of South Africa

Kyk met nuwe oë … na jou geliefdes – 2 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

10As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie.

PREDIKER 4:10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ma-wees het gemaak dat ek met nuwe oë na die lewe kyk. Ek het my eie ma in ’n nuwe lig beskou. Eintlik het ek met nuwe oë na al my geliefdes begin kyk, want die koms van ons baba het ook ’n impak op hul lewens gemaak.

Vriendinne het verander in waardevolle steunpilare wat help met raad of soms net luister wanneer dinge rowwer as rof gaan. Familielede het verander in besorgde ooms, tannies, oupas en oumas wat kos en geskenke aandra en die kleinding net wil bederf en liefhê.

My man het verander in ’n besorgde pa wat doeke omruil, troos, verspotte grappies maak en in snaakse stemme sing om ons dogtertjie te vermaak en hardop te laat lag.

Net so beleef ek ook elke dag hoe ons dogtertjie versot is op die mense in haar lewe. Sy is dol oor haar oumas en oupas – elkeen met hul eie troetelnaam vir haar. Sy raak opgewonde as sy haar verskillende ooms en tannies sien en elkeen het weer ’n unieke benadering wanneer hulle met haar speel en gesels.

Ons aanvaar so dikwels die mense in ons lewens as vanselfsprekend. Ons raak so gewoond aan ons geliefdes dat ons nie meer hul unieke geite en persoonlikhede raaksien en waardeer nie. Baiekeer sien ons grotendeels hul foute raak.

Ek het in die afgelope paar maande besef hoe belangrik ons ondersteuningsnetwerk van geliefdes is. Nie net omdat hulle daar is vir ons in hierdie nuwe hoofstuk van ons lewe nie, maar ook omdat hulle kleurvol en interessant is en ons dogtertjie se lewe verryk.

Ons het almal ons geliefdes nodig en God het dit nog altyd geweet – van die begin af. Ons het mense nodig wat ons lewe kleur gee. Ons het mense nodig om ons op te help wanneer dinge swaar gaan, wanneer ons raad nodig het en wanneer ons nie weet watter kant toe nie.

Wanneer laas het jy met nuwe oë na die mense rondom jou gekyk? Sonder om op hul tekortkominge te konsentreer? Dalk is dit tyd dat ons daardie mense opnuut raaksien en waardeer.

Gebed: Hemelse Vader, help my om my geliefdes te waardeer en hul goeie eienskappe opnuut raak te sien. Help my ook om hulle te ondersteun en daar te wees vir hulle wanneer hulle my nodig het. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS