Bible Society of South Africa

Kyk met nuwe oë … na jouself – 3 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

18Toe ek gedink het my voete gly,

het u troue liefde my regop gehou, Here.

PSALMS 94:18AFR83Maak oop in die Bybelleser

Baie van ons is geneig om ons eie, grootste vyande te wees. Ons felste kritici begroet ons dikwels wanneer ons in die spieël kyk. Plaas jy ook gedurig druk op jouself om beter te wees? Dalk voel jy ook soms jy is nie mooi genoeg nie, nie slim genoeg nie, nie snaaks genoeg nie, nie ryk genoeg nie, nie georganiseerd genoeg nie, gewoon nie goed genoeg nie?

Ek is geneig om myself vir dae aaneen te kasty as ek voel ek het ’n fout gemaak. Ek speel die scenario oor en oor in my kop af en dink hoe ek dit anders moes gedoen het, hoe ek van beter moes geweet het.

In haar nuutste treffer “Anti-hero”, wat die afgelope maande dikwels op verskeie radiostasies te hoor is, sing die Amerikaanse sanger Taylor Swift, “It’s me, hi, I’m the problem, it’s me / At tea time, everybody agrees …”

Die lied gaan glo oor hoe sy dikwels laatnag met haar eie onsekerhede worstel en meestal die fout by haarself soek. Ek dink dit is juis omdat dié lied se tema so universeel is, dat dit so gewild is. Voel ons nie maar almal in een of ander stadium asof ons nooit goed genoeg is nie? Dis iets waarmee baie mense kan identifiseer.

Tog sien ek hoe ons babadogtertjie elke aand opgewonde raak as sy haar pa se stem hoor wanneer hy van die werk af by die huis kom. As ek haar by die dagsorg gaan haal en sy sien my by die deur, gee sy ’n gilletjie en klap haar armpies teen haar lyf. (Ek dink die enigste ander persoon wat al ooit so bly was om my te sien, was ons hond Bella.)

Ons dogtertjie gee op haar jong ouderdom nie om hoe ons lyk nie. Sy gee nie om of ons perfek is en alles elke dag perfek reg doen nie. Ek kan sien sy dink haar pa is die beste mens wanneer hy met haar speel – sy kraai van plesier vir sy lawwighede. Wanneer sy laatnag onrustig is, raak sy kalm as een van ons haar optel en vashou. Die wete dat ons daar is vir haar, is op daardie oomblik genoeg. Daar is liefde en vertroue in haar oë wanneer sy na ons kyk.

Dis een ding om doelwitte na te streef en jouself te wil druk wanneer jy wil presteer. Dit is goed om jouself te probeer verbeter en te wil groei. Dis goed en reg en daar is ’n plek daarvoor. Maar soms moet ons met sagter oë na onsself kyk. Soms moet ons onsself herinner, ons ís goed genoeg. Nee, nie soms nie. Sommer elke dag. Ons is immers God se kinders en Hy is en bly lief vir ons, al is ons nie naastenby perfek nie.

Gebed: Liewe Heer, dankie vir die wete dat ek aan U behoort. Help my om met nuwe oë na myself te kyk. Help my ook om te onthou dat U my liefhet, ten spyte van my tekortkominge en foute. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS