Bible Society of South Africa

Kyk met nuwe oë … na die alledaagse – 1 Maart 2023

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

2Met my hele hart wil ek U prys, Here,

wil ek van u magtige reddingsdade vertel.

3Oor U wil ek my verbly en vrolik wees,

u Naam wil ek besing, o Allerhoogste.

PSALMS 9:2-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

In Julie verlede jaar, het my lewe handomkeer verander. Die rede? Ons het vir die eerste keer ouers geword. Ja, ’n klein dogtertjie het ons hele wêreld op sy kop kom keer.

Ons het geweet dinge gaan verander. Ek kan eerlik wees, ons het nie regtig besef wat op ons wag nie. Die pajamadril, die klein mensie wat skielik ons grootste verantwoordelikheid geword het en die onvoorspelbaarheid van ons nuwe lewe, was soos yskoue water in die gesig. In daardie eerste paar weke het ek moedeloos en moeg gewonder wanneer my lewe weer na “normaal” gaan terugkeer. Dit het natuurlik nie. Ek moes bloot gewoond raak aan die nuwe omstandighede en die min slaap.

Dis nou al amper agt maande later en die lewe met ’n baba is gedurig vol uitdagings. Maar die een ding waaraan ek my elke dag verwonder, is hoe die alledaagse dinge, skielik meer betekenis gekry het. Ek kyk met vars oë na die lewe en al sy dinge.

Meeste oggende, wanneer daardie klein dogtertjie wakker word en vrolik vanuit haar bababedjie begin roep en gil en lag, gaan tel ek haar op. Ek vat haar saam wanneer ek die leefkamer se gordyne ooptrek en die voordeur oopsluit. Dan gaan staan ons vir ’n oomblik op die stoep, asem die vars oggendlug in en kyk hoe lyk die nuwe dag. Sy probeer gewoonlik die sleutels gryp en kyk dan nuuskierig na die prieël se blare wat bo ons ritsel. Dis een van my gunstelingoomblikke.

En dít is die wonder van ’n nuwe baba. Alles is vir haar nuut. Sy ontdek en leer elke dag iets. Bome, blare en blomme is alles vir haar ongewoon, interessant en mooi. (Sy wil natuurlik ook aan alles kou!) Die tarentale wat raas, fasineer haar. Sy wil aan elke nuwe gesig vat en voel. Haar badwater maak haar elke aand opgewonde as sy skop en plas. Die seesand onder haar voetjies is opwindend en vreemd.

Stadig maar seker ontdek sy die wêreld. En ons ontdek opnuut saam met haar.

Skielik sien ek weer hoe wonderlik God die aarde gemaak het. Ek sien hoe die golwe in die see se vlak water haar laat skrik. Ek sien hoe sy goedgelowig vir vreemde mense in die winkels glimlag – sonder vooroordeel – en hulle almal glimlag terug. ’n Pynappel smaak vir my sommer lekkerder as ek sien hoe sy aan klein stukkies lek en haar gesiggie trek, daaroor dink en dan weer proe.

Wanneer ek saam met ons dogtertjie, met nuwe oë na die alledaagse dinge kyk, juig my hart.

Ek dink aan Psalm 136. “En Hy het die maan en die sterre gemaak om oor die nag te regeer, ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.” Psalm 136:9 (Bybel vir almal)

Skielik waardeer ek weer die dinge wat ek voorheen as vanselfsprekend aanvaar het en ek sien God se hand opnuut in die wêreld rondom my.

Gebed: Liewe Here, help my om met nuwe oë na die alledaagse dinge in my lewe te kyk. Help my om die dinge wat vir my nou al doodgewoon is, van voor af te waardeer. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS