Bible Society of South Africa

Druk deur – 28 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

25Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop,

vir die mens wat na sy wil vra;

KLAAGLIEDERE 3:25AFR83Maak oop in die Bybelleser

Vandag sluit ek die reeks af. Baie dankie vir elke e-pos met terugvoer die afgelope paar weke. Ek wil afsluit met ’n storie wat ek hoop jou bemoedig sou jy in ’n wagtydperk wees.

Die mis het laag oor die dam gehang. Dit was ’n groot dag vir die jong langafstandswemmer. Vir weke lank het sy geoefen om die jongste swemmer te word om ’n spesifieke afstand in ’n rekordtyd af te lê. Haar ma en swemafrigter was by haar. Die vorige dag het sy vir oulaas na die bekende geel vlaggie by haar eindpunt van haar roete gaan kyk. Sy was gereed.

Met die afset, het die jong meisie soos ’n vis in die water begin swem terwyl haar ma en haar afrigter met hulle stophorlosies op ’n rubberbootjie ’n entjie agter haar gevolg het.

Een uur het verbygegaan. Meteens het die jong meisie gestop voordat ’n gil oor die water weerklink het. Krampe. Pyn was duidelik op haar gesig. “Tel my uit!” het sy na haar ondersteuners geskree. Omdat beide bewus was van hoe belangrik hierdie dag vir die jong meisie was, en dat uitklim haar sou diskwalifiseer, het hulle haar eerder probeer motiveer om aan te hou swem: “Dit kan nie meer so ver wees nie … moenie nou moed opgee nie. Jou tyd is goed.”

Die jong meisie het weer weggetrek. Na ’n paar hale was die pyn terug. Sy het opgekyk, soekend na die geel vlaggie op die kaai. In die misweer kon sy niks sien nie. Met trane van teleurstelling het sy finaal tou opgegooi: “Tel my uit. Ek kan nie meer nie … ”

Dis egter toe die meisie op die boot gaan sit dat sy na haar asem snak. “Nee!” Die mis was besig om oop te trek en minder as 100 meter weg het die geel vlaggie duidelik op die kaai gewapper!

In ’n wagtyd (om swanger te word, om ’n lewensmaat te ontmoet, om ’n werksgeleentheid te kry, om genesing te ontvang) is die versoeking altyd daar om tou op te gooi.

In Klaagliedere 3:25 lees ons: “Goed is die Here vir hulle wat op Hom wag, vir die mens wat na Hom soek.” (2020-vertaling)

Mag ons in die wagtyd aan God vashou, wetende dat Hy nie net weet waar jou “geel vlaggie” staan nie; Hy rig ons voetstappe in die regte rigting en Hy versterk ons wanneer ons swak is. Kom ons wag op Hom en hou aan om Hom te soek. Sterkte.

Gebed: Vader God, dankie dat ek kan weet dat U die toekoms ken. Help my om aan te hou om my geloof en vertroue in U te plaas as ek moedeloos begin voel. Ek bid dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS