Bible Society of South Africa

Kinders van God - 23 Mei 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

ROMEINE 8

16Hierdie Gees getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.

ROMEINE 8:16AFR83Maak oop in die Bybelleser

Daar is seker min dinge wat ‘n mens se lewe so onaangenaam maak as onsekerheid. Dink maar hoe ‘n mens jou kan bekommer oor ‘n vreemde rooi merk op jou vel, doodgewoon omdat jy onseker is of dit dalk kwaadaardig is. Ons lewe ongelukkig in ‘n wêreld en samelewing van groot onsekerhede. Loopbaan, politiek, gesondheidsorg, gesinsverband, vrese en onsekerheid vanweë die hoë misdaadsyfer. As jy regtig ‘n lysie van alles wil opstel sal dit bra lank wees.

Paulus skryf die brief aan die Romeine ongeveer twintig jaar na die ontstaan van die kerk in Jerusalem. Die jong kerk het nou reeds ver oor die grense uitgebrei en gemeentes het in verskeie plekke onder andere Rome, Korinthe en Efese ontstaan. Die gelowiges in Rome het waarskynlik aan ‘n aantal kleiner huisgemeentes behoort. As ‘n mens hierdie brief en ook van Paulus se ander briewe lees, kom jy agter dat daar ook by baie gelowiges onsekerheid was oor baie dinge. Paulus moet baie vrae oor ‘n verskeidenheid van geloofskwessies beantwoord.

Die ergste onsekerheid waarop mense toe en vandag nog antwoorde soek, is dié oor godsdiens en geloof. Sedert veral die Tweede Wêreldoorlog met sy verskrikking en verwoesting en die uitwissing van miljoene mense, vra al meer mense die vraag of God werklik bestaan. Dit is die een vraag wat niemand vir jou kan beantwoord nie. Jy glo dat God bestaan of jy glo dit nie. Vir elkeen van ons wat wel glo dat God bestaan, is die volgende logiese vraag oor geloofsekerheid. Hoe weet ek of ek regtig aan Hom behoort?

Mense moes die vraag in Paulus se tyd al gevra het. Sy hele brief aan die Romeine is eintlik ‘n uitvoerige antwoord op die vraag. Kyk, sê hy, jou geloofsekerheid hang nie van jouself af nie maar “Die Gees self getuig teenoor ons gees dat ons kinders van God is.” Sekerheid berus dus nie op my gevoel nie, maar op die werking van die Gees in my lewe. God sê dit is so, en ek glo Hom honderd persent.

Gebed: Hoe kan ons ooit vir U genoeg dankie sê dat ons sekerheid nie berus op hoe ons dink of voel nie, maar op wie U is. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS