Bible Society of South Africa

'n Model gelowige - 24 Mei 2024

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

2 TIMOTEUS 1

7Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

2 TIMOTEUS 1:7AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek is baie geneig om die karakters in die Bybel op ‘n voetstuk te plaas. Hulle lewens lyk so absoluut toegewy aan die werk van God, ‘n onbereikbare ideaal vir my as gewone mens. In die vroeë kerk was daar mense soos Petrus, Barnabas, Paulus en baie ander wat volkome ingestel was op hulle werk in die kerk van Christus.

Nog een van hulle is Timoteus, ‘n redelike jong man wat vuur en vlam was vir die evangelie. In omtrent 50 nC vertrek Paulus en Silas op die tweede sendingreis en tydens die reis ontmoet hy in Listra vir Timoteus, seun van ‘n Joodse ma en Griekse pa. Van Timoteus lees ons baie goeie dinge. Hy het vroeg reeds van sy ouma en ma van die evangelie geleer. Paulus noem hom “my ware kind in die geloof” (1 Timoteus 1:2). Teen 63 nC toe Paulus sy briewe aan Timoteus skryf, was laasgenoemde ‘n leiersfiguur in die plaaslike kerk.

Ten spyte van al die goeie eienskappe vind Paulus dit nodig om vir Timoteus te sê: “Jy moet onthou om daardie genadegawe altyd weer lewendig te laat word, soos ‘n vuur wat weer lewendig word wanneer jy dit blaas.” (2 Timoteus 1:6, Die Bybel vir almal) In vandag se teks sê hy ook vir Timoteus om nie bang te wees nie. Dit lyk dus asof selfs ‘n man soos Timoteus bemoediging nodig gehad het langs die geloofspad, want ook hy kan kan moeg raak.

Nou gee Paulus vir hom raad. Ons sien dit oral in die res van die brief. Onthou jou gelowige ouma en ma en moenie vergeet dat jy spesiaal afgesonder is om God te dien nie. Paulus hou selfs sy eie lewe as voorbeeld en bemoediging voor. (2 Timoteus 3:10) Hy wys Timoteus op die krag van die Heilige Skrifte “… wat vir jou die wysheid kan gee tot verlossing deur die geloof in Jesus Christus. (2 Timoteus 3:15)

Ek weet nie hoe jy dit ervaar nie, maar ek raak soms ook maar erg uitgeput op die geloofspad. Gelukkig kan ek weer krag kry uit presies dieselfde dinge wat Paulus vir Timoteus aanbeveel.

Gebed: As ek soms so moeg word op die geloofspad dat ek struikel en selfs val, help my asseblief om weer op te staan, o Heer. Amen

Bible Society of South Africav.4.24.4
VOLG ONS