Bible Society of South Africa

Kies reg – 26 Januarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

Die oog moet op Jesus gevestig wees

1Terwyl ons dan so 'n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.

HEBREËRS 12:1-2AFR83Maak oop in die Bybelleser

19Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.

DEUTERONOMIUM 30:19AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die afgelope naweek het ons die Protea Netbalspan se wedstryd teen die Silver Ferns van Nieu-Seeland in Kaapstad gaan kyk. Die atmosfeer was elektries. Omdat Suid-Afrika tans vyfde op die ranglys van netbalspanne in die wêreld lê teenoor Nieu-Seeland se tweede plek was die verwagting dat hulle die oorhand sou hê. Die skare was egter bankvas agter die Proteas.

Elke keer wanneer die bal afgevat is en op pad was na die Proteas se doel of ’n doel ingegooi word, het ’n luide applous van ondersteuning van die skare regdeur die Kaapstad Internasionale Konferensiesentrum getrek – met tye tot só mate dat ’n mens hoendervleis van trots gehad het.

Hierdie belewenis het my opnuut laat dink aan die spel van die lewe. Elke dag het ons ’n keuse hoe ons optree – in die lig óf in die duisternis. Langs die “baan van ons lewens” is daar twee skare – die een kant is gevul met geloofshelde wat ons aanmoedig en ondersteun en hoop ons neem die regte besluite elke dag, die ander die vyand en sy trawante wat hoop dat ons swig voor versoeking.

In Hebreërs 12:1-2 lees ons: “Terwyl ons dan so ‘n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof.” Ook in Deuteronomium 30:19 sê God: “Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.” (1983-vertaling)

Wanneer ons kies om daardie onvanpaste verhouding buite ons huwelik te beëindig of om met integriteit op te tree (terwyl ons dink niemand ons sien nie) of wanneer ons skinderpraatjies stop of geduld kies wanneer ons met ons kinders omgaan, is daar ’n harde gejuig uit die skare van die hemel. Net so is daar ongelukkig ook ’n luide applous van die teenoorgestelde paviljoen wanneer ons swig voor watter versoeking die vyand ook al op ons pad plaas.

God het ons die geskenk van vrye keuse gegee, maar Hy het ook vir ons die Heilige Gees gegee wat ons versterk om die regte besluite te neem in uitdagende situasies. Kom ons kies vandag reg sodat die regte applous opklink. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie vir die geskenk van u Heilige Gees in my lewe. Help my asseblief vandag om die regte besluite te neem in elke situasie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS