Bible Society of South Africa

Niks is by God onmoontlik nie – 27 Januarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

12Om dié rede ly ek ook hierdie dinge. Maar dit skrik my nie af nie, want ek weet op wie ek vertrou, en ek is daarvan oortuig dat Hy magtig is om wat Hy aan my toevertrou het, tot op die dag dat Hy weer kom, in stand te hou.

2 TIMOTEUS 1:12AFR83Maak oop in die Bybelleser

17Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen.

1 TIMOTEUS 1:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Verlede jaar Julie het Zilda Eloff van Vereeniging en haar gesin ’n bonatuurlike ervaring gehad. Hier is haar getuienis:

Zilda: “Ná my oogoperasie het my ma vir ’n tydjie by ons kom kuier om met ons kinders te help. Een oggend in hierdie tyd het ons 5-jarige seuntjie, Lieben, vroeg opgestaan en vir my gesê dat hy ’n interessante droom gehad het. Omdat ek nog besig was om koffie te maak, het hy dit solank vir my ma en my man gaan vertel voordat hy dit vir my kom vertel het. Ons almal was verstom oor die droom.

“In die droom was Lieben in ’n goue paleis waar hy kon hoor hoe Jesus sy naam roep. Jesus het lang hare en ’n baard gehad en ’n ‘boy rokkie’ (soos Lieben dit noem) gedra met ’n goue serp om sy lyf. In sy hande was daar gate, maar dit was nie meer seer nie omdat Jesus lankal reeds vir ons aan die kruis gesterf het. Jesus het vir Lieben iets gegee om te eet en te drink waarna hulle saam gelag en gespeel het. Net voordat Lieben wakker geword het, het Jesus vir hom gesê: ‘Jy moet nooit bang wees nie, Lieben. My engele sal jou altyd beskerm.’

“Drie weke ná die droom was ek op pad om ons huishulp by die bushalte te gaan aflaai. Oudergewoonte het ek vir Lieben gevra om ons hondjie op te tel en die kanthekkie toe te maak sodat dit nie in die straat uithardloop nie. Ek het die voertuig in trurat gesit en agtertoe gery. Dit het gevoel asof ek oor iets ry. Ek het dadelik vorentoe gery. Weer het ek gevoel asof ek oor iets ry. Hierna het my kind begin skree: ‘Mamma, jy ry oor my!’ Naby aan histerie het ek uit die voertuig gespring. Wat ek nie geweet het nie, is dat Lieben daardie dag die hondjie opgetel het en op die gras ’n entjie agter die wiel gaan sit het (iets wat hy nog nooit gedoen het nie).

“Ek het Lieben se hemp opgelig. Alhoewel daar ’n duidelike merk van die wiel op die hemp was, was daar geen teken op sy klein lyfie nie. Steeds in skok het ek hospitaal toe gejaag waar ’n string toetse gedoen is. Keer op keer het ons en die dokters verstom gestaan dat daar geen skade aan sy ingewande is nie. Dit is ’n absolute wonderwerk!

“Hierdie ervaring het my opnuut laat besef dat ons as ouers nodig het om ons kinders aan God oor te gee. Ons kan 100 keer bid vir die bloed van Jesus oor ons kinders, maar dit is net Hy wat hulle beskerm. Ek kan nie genoeg dankie sê vir Hom dat Hy Lieben beskerm het nie.”

Zilda is reg. In 2 Timoteus 1:12 word ons herinner dat God na alles wat ons aan Hom oorgee en toevertrou kyk en dat Hy dit in standhou. Wanneer ons dit besef, kan ons sê soos die skrywer in 1 Timoteus 1:17: “Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid!”

God doen stééds wonderwerke. Kom ons sorg dat ons alles wat vir ons spesiaal is opnuut aan Hom toevertrou. Hy beskerm ons geliefdes – selfs wanneer ons nie daar is nie. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat niks vir U onmoontlik is nie. Ek bring vandag (noem jou uitdaging) na U. Wees my asseblief genadig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS