Bible Society of South Africa

Ken jy Hom in al jou weë? – 23 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

5Vertrou volkome op die Here

en moenie op jou eie insigte staatmaak nie.

6Ken Hom in alles wat jy doen

en Hy sal jou die regte pad laat loop.

SPREUKE 3:5-6AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die afgelope naweek het die 65-jarige Duitse gholfspeler Bernhard Langer, Hale Irwin se rekord van 45 PGA toernooi-oorwinnings geëwenaar toe hy die Chubb Classic, ’n Amerikaanse gholfreeks vir senior spelers, in Naples in Florida gewen het. Dit maak hom een van die beste gholfspelers van alle tye.

In Langer se toespraak ná die tyd het hy ’n papiertjie uit sy broeksak gehaal en gesê dat die woorde op dié papiertjie hom deur die dag gedra het. Tot almal se verbasing het hy Spreuke 3:5-6 gelees: “Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staatmaak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.” (1983-vertaling)

Hierdie belofte het ’n paar keer in Langer se lewe ’n groot rol gespeel. Jare gelede moes sy ma besluit het of sy hom op aanbeveling van die dokter sou aborteer (daar was komplikasies met die swangerskap). Sy het besluit om dit nie te doen nie. As jong seun het Langer by die dood omgedraai met ’n hoë koors. Hy is wonderbaarlik genees. Keer op keer het hulle as gesin nodig gehad om God te vra om in te gryp omdat hulle met hul rûe teen die muur gestaan het. God het ingegryp.

Die belofte uit Spreuke geld steeds vir ons in ons lewens. In watter area benodig jy vandag wysheid? Jou huwelik? Jou loopbaan? Jou verhoudings? Jou gesin? Jou kinders? Mag ons mekaar herinner dat wanneer ons God ken in elke besluit wat ons neem, Hy ons voetstappe rig. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie vir u goedheid en vermoë om my deur elke situasie te lei. Vandag vra ek dat U my sal lei met (noem die area). Wys my wat en hoe ek dinge moet doen. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS