Bible Society of South Africa

Hy antwoord soms op onverwagse maniere – 24 Februarie 2023

Deur Benescke Janse van Rensburg

Bybelteks(te)

23Die Here bepaal die koers van die mens

met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom.

24As so iemand val, bly hy nie lê nie,

want die Here help hom op.

PSALMS 37:23-24AFR83Maak oop in die Bybelleser

17So sê die Here, jou Verlosser,

die Heilige van Israel:

Ek is die Here jou God

wat jou onderrig tot jou beswil,

wat jou lei op die pad waarop jy moet gaan.

JESAJA 48:17AFR83Maak oop in die Bybelleser

n die week het ek iets spesiaal beleef. ’n Kollega van my (kom ons noem haar Leonie) soek vir die afgelope twee jaar reeds na haar broer. Nadat hy deur ’n geweldige moeilike tyd in sy lewe gegaan het, het hy kontak met die gesin verbreek. In haar stiltetyd het sy gereeld met God oor hom gepraat.

In Leonie se haas om iemand vroeër die week vir inligting te bel, het sy per ongeluk die verkeerde landlynnommer op die foon ingedruk. Dít het sy eers besef toe die man aan die anderkant die foon antwoord. Omdat hy kon sien van waar sy bel, het hy gevra wie sy is en na wie sy eintlik soek. In hulle gesprek het hulle gou agtergekom dat hulle mekaar behoort te ken omdat hulle soveel van dieselfde mense ken. Selfs nog groter was die verbasing toe Leonie hoor dat haar broer tans by dié man en sy gesin woon.

Leonie se storie het my opnuut laat besef dat God nie net ons gebede hoor nie, maar dat Hy sy goedheid aan ons openbaar deur hoe Hy ons gebede soms op onverwagse maniere beantwoord.

In Psalm 37:23-24 (Bybel vir almal-vertaling) lees ons: “Wanneer die Here tevrede is oor hoe ‘n mens lewe, dan lei Hy hom en dan beskerm Hy hom. Wanneer so ‘n mens val, dan val hy nie hard nie, want die Here hou sy hand vas.” Ook in Jesaja 48:17b sê God: “Ek is julle God die Here wat vir julle leer om te doen wat julle moet doen, en Ek lei julle op die pad waar julle moet loop.”

God lei ons. Hy beskerm ons. Hy tel ons op wanneer ons val.

Ek kan nie help as om te dink dat daar op God se gesig ’n glimlag moes wees toe Leonie vroeër die week daardie “verkeerde nommer” op die foon intik. Hy het geweet wat aan die ander kant van die foon op haar wag. Sterkte.

Gebed: Vader God, baie dankie dat ek my lewe aan U kan oorgee. Rig asseblief ook vandag my voetstappe. Help my om my oë vir u antwoorde op my gebede oop te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS