Bible Society of South Africa

Doen goed aan ander - 6 September 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

27Moenie 'n weldaad weerhou van iemand aan wie dit toekom,

terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie.

28Moenie vir iemand sê:

“Gaan eers terug en kom môre weer,

dan help ek jou,” as jy nou reeds kan help nie.

SPREUKE 3:27-28AFR83Maak oop in die Bybelleser

Omtrent by elke verkeerslig staan daar iemand met ‘n sakkie vrugte of groente of ‘n goedkoop plastiekspeelding wat hy of sy probeer verkoop. Ander staan sommer net en lyk moedeloos met ‘n plakkaat waarop kortliks vir jou vertel word van die persoon se slegte omstandighede. Party vra nog of jy nie ‘n werkie het wat hy kan kom doen nie, terwyl ander doodgewoon bedel. Kinders met flenter klere hou ‘n hand uit.

Meesal sê ek jammer, maar ek het nie iets vir jou nie en net ‘n paar honderd treë verder keil my gewete my op omdat ek altyd te haastig is om by die naaste winkel gou ‘n brood of ander stukkie kos te gaan koop. Sal dit my begroting so omver gooi as ek maar die sakkie nartjies by die verkeersligverkoper koop, al het ek so pas vrugte by die supermark gekoop? Gewoonlik troos ‘n mens jouself dat daar so baie van hierdie mense is dat jou bietjie nie veel verskil sal maak nie. Maatskaplike werkers en ander gemeenskapswerkers vermaan ‘n mens ook gereeld om nie so ‘n persoon in sy kwaad te sterk nie. Daar is immers plekke waar kos daagliks uitgedeel word.

Wat sê die spreuk vir ons oor die saak? Die spreuk lyk vir my spreek my aan. Ek mag nie iets weerhou van iemand wat dit verdien nie, veral as dit “in my mag is om op te tree nie”. Die woord “verdien” beteken hier iemand wat dit nodig het, iemand wat in ‘n situasie is waar hy/sy werklik in die nood is.

So ‘n situasie is natuurlik nie net fisiese gebrek nie, maar ook geestelike nood. Dood of siekte, verlies van werk, groot skade of enige ander hartseer of trauma. Spreuke 3:28 sê baie mooi ons moet nie uitstel om te help waar ons kan nie. Ek moet nie in my haastigheid iewers heen dink ek sal môre vir die een by die verkeerslig ietsie saamvat, of die persoon in geestelike nood volgende week besoek wanneer ek ‘n tydjie kan afknyp nie. Ons het tog meesal geld by ons en ons het selfs in ‘n baie besige dag ‘n paar minute “by ons”. Môre is dalk te laat.

God is nooit te haastig of suinig met sy tyd of seëninge wanneer ons in die nood is nie.

Gebed: Help my asseblief om raak te sien waar daar werklik nood is en maak my iemand wat nie sal uitstel terwyl ek in staat is om dadelik te help nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS