Bible Society of South Africa

Hier is groot probleme - 9 Junie 2023

Deur Ben Fourie

Bybelteks(te)

Die boodskap aan Sardis

1Skrywe aan die leraar van die gemeente in Sardis:

So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het:

Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood.

DIE OPENBARING 3:1AFR83Maak oop in die Bybelleser

Die boodskap aan Laodisea

14Skrywe aan die leraar van die gemeente in Laodisea:

So sê die Amen, die geloofwaardige en ware getuie, Hy deur wie God alles geskep het:

DIE OPENBARING 3:14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Gaan dit altyd goed by gemeentes en by my as gelowige lidmaat van so ‘n gemeente? Ongelukkig nie. Ons hoor nie graag van dinge wat verkeerd is in ons lewens nie, en die woord sonde is deesdae nie baie gewild nie. Ons wil graag vrede en vreugde in ons godsdiens beleef en skram weg van die idee van sonde en straf, maar Jesus vind dit wel nodig om ook vir ons te sê wanneer dinge ernstig verkeerd is.

Ons het gesien dat Jesus by vyf van die gemeentes baie dinge gevind het wat hulle tot eer strek, maar by twee van die gemeentes, naamlik Sardis en Laodisea, vind Hy niks om oor bly en dankbaar te wees nie. Jesus draai geen doekies om wanneer Hy hulle aanspreek nie.

Aan Sardis sê hy baie duidelik in Openbaring 3:1b: “Ek ken jou dade, jy staan daarvoor bekend dat jy lewe, maar jy is dood”. Werklik ‘n baie ernstige aanklag. Op die oog af lyk dit of dit goed gaan, tot die mate dat hulle selfs bekend staan dat hulle lewe, maar geestelik gaan daar niks aan nie. Inteendeel, geestelik is hulle dood. Hoe lyk dit by ons gemeente en by onsself?

By Laodisea is dit net so erg. In Openbaring 3:15 sê Jesus vir hulle: “Ek ken jou dade, dat jy nóg koud, nóg warm is.” Hierdie louwarm houding is vir die Here so afstootlik dat Hy sê: “…gaan Ek jou uit my mond spoeg.” (Openbaring 3:16b) Wanneer dit by geloof kom is daar nie plek vir draadsitters nie, jy is óf vir Jesus óf jy is teen Jesus.

Vir Jesus is geen gemeente of persoon egter ooit so verlore dat daar geen kans vir redding is nie. Vir Sardis sê Hy in Openbaring 3:3: “Onthou dan hoe jy die boodskap ontvang het, en daarna geluister het. Bewaar dit, en bekeer jou!” Die boodskap vir Laodisea is in Openbaring 3:19b-20: “…Wees dan ywerig en bekeer jou! Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe, en saam met hom eet, en hy saam met My.”

Jesus hou nooit op om by mense se deure te klop nie. Ja Hy klop selfs die geestelik dooies wakker.

Gebed: Baie dankie Here Jesus dat U ook nie ophou klop het totdat ek oopgemaak het nie. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS