Bible Society of South Africa

Jesus deel sy blydskap met ons! – 26 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

13“Maar nou kom Ek na U toe. En Ek sê dit terwyl Ek nog in die wêreld is, sodat hulle my blydskap in al sy volheid in hulle kan hê. 14Ek het u woord aan hulle gegee, en die wêreld haat hulle, omdat hulle nie tot die wêreld behoort nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 15Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld moet wegneem nie, maar dat U hulle van die Bose moet bewaar. 16Hulle behoort nie tot die wêreld nie, net soos Ek ook nie tot die wêreld behoort nie. 17Laat hulle aan U toegewy wees deur die waarheid. U woord is die waarheid.

JOHANNES 17:13-17AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jesus het vir ons lewe in oorvloed kom bring (Johannes 10:10) Hy het egter nooit gesê dat dit maklik gaan wees om Hom te volg as sy dissipels nie. Hy het gewaarsku dat die pad na die hemel toe nou gaan wees (Matteus 7:14). In vandag se teks sien ons dat die wêreld die kinders van God haat, omdat ons anders is as die wêreld. Hier beteken “wêreld” die deel van die planeet wat nie deel van God se koninkryk is nie, en nie die Here se koningskap aanvaar nie. Die kerkgeskiedenis bewys dat hierdie woorde waar is deur die eeue heen. Daar was al uiterste vervolging van Christene oor die jare vandat Jesus opgestaan het uit die dood.

Die kinders van God is anders, omdat ons deur die woorde van Jesus geheilig is. Ons behoort aan die Here. Ons word nuut gemaak deur die Heilige Gees. Ons beginsels en waardes het verander vandat ons onder die Here se nuwe bestuur staan. Ons leef in ‘n donker wêreld wat ons haat, het Jesus gesê. Tog word ons hier gelaat as ligdraers, om God se alternatief vir die wêreld se gebrokenheid te wys. Ons het ‘n roeping en ‘n taak om hier te verrig, daarom word ons nie dadelik hemel toe geneem as ons tot geloof kom nie.

Deur sy Gees stap Jesus hierdie aardse pad saam met ons. Hy bid dat ons van die Bose bewaar sal word. Hy bid dat die woorde van waarheid ons voortdurend sal bly transformeer, om meer en meer Jesus se beeld in hierdie wêreld te wees.

Uiteindelik bid Jesus dat ons, ongeag die vervolging en die lyding wat kinders van God kan verwag, steeds in sy blydskap sal lewe. Ons is in ‘n gevaarlike wêreld, maar ons behoort aan die Here. Ons is verlos. Ons word nuut gemaak. Ons vreugde lê in ons verhouding met Jesus – ons ken Hom, ons leef uit sy liefde. Sy liefde dring ons, het Paulus so mooi gesê in 2 Korinthiërs 5:14. Dit is die krag wat ons aanspoor om te volhard en te floreer terwyl ons ons aardse reis aanpak. Elkeen van ons het die diep hartsbegeerte om gelukkig te wees in ons lewens. Die blydskap van Jesus in my lewe maak die lewe mooi.

Gebed: Here, dankie dat ek u kind mag wees. Dankie dat U my lewe vul met u blydskap wanneer ek in verhouding met U leef. Gee my dan die krag om te volhard wanneer ek die hardheid van die wêreld rondom my beleef. Help my om u lig in die donker rondom my te skyn. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS