Bible Society of South Africa

Jesus – die Weg, die Waarheid en die Lewe vir my – 4 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

5Tomas sê toe vir Hom: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die weg daarheen ken?”

6Jesus het vir hom gesê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie. 7As julle My ken, sal julle my Vader ook ken. En van nou af ken julle Hom en sien julle Hom.”

JOHANNES 14:5-7AFR83Maak oop in die Bybelleser

As jy nie by jou huis is nie, is jy êrens heen op pad. Jy weet gewoonlik waarheen. Jy ken die pad soontoe. Of as jy nie weet nie, dan vind jy gewoonlik uit.

Jesus sê: Hy is op pad om vir ons plek in sy Vader se huis te gaan voorberei. Thomas sê: Ek weet nie waar dit is nie, hoe gaan ek daar uitkom? Is dit nie maar wat elkeen van ons ook wonder in ons lewensreis nie? Waarheen is ek op pad, en hoe loop die pad soontoe?

Die eindbestemming van ons lewensreis is om vir altyd saam met Jesus in sy Vader se huis te bly. Jesus sê: Ek is die Weg daarheen. Wie My volg, sal veilig daar uitkom. Die doel van Jesus se aardse bediening was juis om vrede tussen God en ons te kom herstel. Hy het vir ons die prys kom betaal, sodat ons in ‘n persoonlike verhouding met God kan lewe. Wanneer ons Hom volg, sal ons by ons bestemming uitkom. Dis wat Hebreërs 12:1-2 ook van ons vra “ … laat ons … die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gerig op Jesus, die Leidsman en Voleinder van die geloof”

Jesus sê: “Ek is die Waarheid.” Dit bly mos maar ‘n lewenslange vraagstuk: wie is ek? Ons samel van kleins af inligting in. Wie is my ouers? Waar pas ek in die familie in? Watter beroep wil ek beoefen? Waarin stel ek belang? Wat laat my hart warm klop? Wat maak my bang? Die inligting wat die wêreld ons gee, is nie altyd akkuraat nie. Ek is nie altyd in alle opsigte die wenner of kampioen nie. Jesus se waarheid is: Ek is deur God geskape. Hy het my baie lief. Hy wil my graag seën met alles wat ek nodig het om my lewe voluit vir Hom te lewe. In sy liefde lei Hy my elke tree van die pad. Ek is meer as ‘n oorwinnaar deur sy liefde (Romeine 8:37) Jesus se Waarheid bou my op, en lei my op ‘n goeie pad.

Jesus sê: “EK is die Lewe!” In Romeine 6:23 leer Paulus ons dat sonde die dood gebring het. Nie net die fisiese dood nie, dit het ook die dood gebring in dit wat mooi is, in verhoudings, in die natuur. Maar Jesus het ons verhouding met God kom herstel. Hy het namens ons gesterwe, sodat ons kan lewe. Hy het vir ons lewe in oorvloed beplan, sê Johannes 10:10. Die lewe wat Hy gee, hou vir altyd, vir dié wat in Hom glo, sê Johannes 6:47. Waar ons Hom volg, is daar weer lewe in dit wat vir ons mooi is, in ons verhoudings, in elke fasset van ons bestaan.

Gebed: Here Jesus, dankie dat U vir my die nuwe pad na my Vader se huis geword het. Help my om in u voetspore te volg tot ek eendag tuis kom. Dankie dat U die Waarheid in my lewe is. Dankie dat die Vader my liefhet, en my seën. Dankie vir lewe, in oorvloed! Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS