Bible Society of South Africa

Gebedsverhoring – Jesus rus my toe vir my lewensreis – 5 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

12“Dít verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen wat Ek doen; en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe gaan. 13Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. 14As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen.”

JOHANNES 14:12-14AFR83Maak oop in die Bybelleser

Jesus het in Johannes 13:1-16 eers sy dissipels se voete gewas, en toe vir hulle geleer dat iemand wat groot in God se koninkryk wil wees, die ander moet dien. Hy het vir ons die voorbeeld gestel. Om groot dinge in God se koninkryk te doen, lyk anders as die wêreld se maatstawwe vir sukses. Ons is as dissipels geroep om in Jesus se voetspore te volg, en sy voorbeeld na te leef. Dit waarmee Hy begin het, is sy kerk se roeping totdat Hy terugkeer. Jesus het kom dien, Hy het stukkende mense kom heel maak, en hoop vir dié wat hopeloos was, gebring. Sy liefde het prakties na mense toe oorgekom, liefde het dade van omgee geword. Hy het lig in die duisternis gebring.

Dis wat Jesus vandag ook vir ons wil sê: ons is geroep tot diens, soos Hy. Ons is hier, in hierdie deurmekaar wêreld, om sy liefde en sy hoop te bring. Wanneer Hy sê ons gaan groter dinge as Hy doen, sê Hy nie ons gaan groter in status of impak wees nie. Ons gaan meer diensbaar wees. Ons gaan met sy hulp ‘n verskil maak waar ons gaan. Sy openbare bediening was maar ongeveer drie jaar lank gewees. Ons gaan dalk baie langer met ons roeping besig wees.

Ons hoef dit nie alleen te doen nie. Hy is deur sy Gees met ons. Ons moet ook onthou dat die Here niks van ons vra, wat Hy nie eerste vir ons gegee het nie. Petrus het dit so mooi verstaan. “Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag.” (2 Petrus 1:3, 1983-vertaling)

Die Here vra groot dinge van ons. Maar Hy gee alles wat ons nodig het om ons roeping te volbring.

Ons moet met hierdie verse nie dink dat Jesus ons die vrypas gee om alles wat ons self wil hê, van Hom te vra nie. Dan gaan ons dikwels teleurgesteld wees. Dit gaan oor dit wat ons in die lewe van Hom, in sy Naam vra. Dit wat ons nodig het om sy Naam te verheerlik. Om dit te doen wat op sy hart is vir die wêreld. Ja, Hy weet wat ons self nodig het, nog voordat ons dit vra – so leer Matteus 6:8. Tog is gebed so belangrik in ons lewens, daarmee spreek ons ons afhanklikheid van die Here se voorsiening uit. Ons getuig daarmee dat ons daartoe verbind is om sy doel in ons lewe te bereik, dat ons sy hulp en wysheid nodig het. Ons fokus is op dit wat Hy graag wil doen deur ons lewens. Sulke gebede beantwoord die Here graag!

Gebed: Here Jesus, dankie dat U die lig in my duisternis is. Dankie dat U my ‘n nuwe lewe kom bied het, en dat U my graag help om by u plan vir my lewe uit te kom. Dankie dat ek alles wat ek nodig het om U te dien, van U mag vra in gebed. Here, help my om ‘n bruikbare instrument in u hand te wees, wat u lig en u liefde in hierdie wêreld weerkaats. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS