Bible Society of South Africa

Baie woonplek by die Vader – 3 April 2023

Deur Ewald Schmidt

Bybelteks(te)

Jesus gaan na sy Vader toe

1“Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My. 2In die huis van my Vader is daar baie woonplek. As dit nie so was nie, sou Ek nie vir julle gesê het Ek gaan om vir julle plek gereed te maak nie. 3En as Ek gegaan het en vir julle plek gereed gemaak het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

JOHANNES 14:1-3AFR83Maak oop in die Bybelleser

Goeiemore vriende! Ons vier vandeesweek Goeie Vrydag. Daarmee onthou ons dat Jesus vir ons aan die kruis gesterf het, as die finale offer om vrede tussen God en ons te bring. Met dit in gedagte gaan ons hierdie maand na Jesus se “Afskeidsrede” kyk. (Johannes 14-17) Dit was Jesus en sy dissipels se gebruik om elke Pasgafees na Jerusalem toe te gaan, om die belangrikste fees van die Ou Testamentiese tye te vier – die verlossing van Israel uit Egipte. Jesus het geweet hierdie Pasga sou anders wees. Hy het geweet die tyd van sy dood het aangebreek. Maar sy dissipels was nog onbewus daarvan. Hulle was nog diep onder die indruk van die feestelike ontvangs toe die skares palmtakke voor Jesus se voete gegooi het, en “Hosanna” geroep het.

Jesus het ‘n bokamer gehuur waar hulle saam die paasmaaltyd sou vier. Daar het Hy begin deur sy dissipels se voete te was, ons lees dit in Johannes 13. Dan volg een van die belangrikste boodskappe van Jesus waar Hy sy dissipels voorberei op sy dood, en die tydperk wat daarna sou volg.

Natuurlik sou die dissipels die volgende oggend, toe Jesus gekruisig is, gevoel het asof hulle hele wêreld ineenstort. Dit sou lyk asof alles waarop hulle hul hoop gevestig het die afgelope drie jaar saam met Jesus, nou tot ‘n einde gekom het. Vir ‘n kort tydjie sou hulle geloof baie diep getoets word. Daarom leer Jesus hulle ‘n kosbare stel geloofswaarhede om aan vas te hou.

Die heel eerste een is dat daar vir gelowiges ‘n wonderlike toekoms wag, selfs wanneer die korttermyn omstandighede uiters moeilik is. Alles werk nie in ons lewens uit soos wat ons verwag of beplan nie. Soms voel ons oorweldig deur slegte nuus. Dit lyk dalk selfs asof God beheer verloor het oor die koers van my lewe!

Jesus sê: die lewenspad mag rof wees, maar ons eindbestemming is veilig in sy hande. Hy maak vir sy volgelinge plek gereed in sy Vader se huis. Wanneer die tyd reg is, kom haal Hy ons om by Hom te wees. Ek is baie lief vir pelgrimstogte soos die Camino de Santiago. Ek het gevind: as ek weet ek gaan vanaand ‘n lekker bed en ‘n bord kos hê wat vir my wag, dan kan ek tree vir tree volhard tot ek daar uitkom. Hoeveel te meer nie op die lewenspad nie?

Gebed: Here Jesus, dankie dat U vir my so lief was dat U vir my aan die kruis gesterf het. Dankie dat U opgestaan het uit die dood, en vir my ‘n pad tot by my Vader se huis oopgebreek het. Lei my op daardie pad, gee my krag om te volhard totdat ek tuis kom. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS