Bible Society of South Africa

Jesus die storieverteller: Erken jou foute - 8 April 2024

Deur Charlea Grey

Bybelteks(te)

21Toe sê die seun vir hom: ‘Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig. Ek is nie meer werd om Pa se seun genoem te word nie.’ 22Maar sy pa roep sy werksmense: ‘Maak gou! Bring klere, die beste, en trek dit vir hom aan; sit vir hom 'n ring aan sy vinger en trek vir hom skoene aan! 23En bring die vetgemaakte kalf, slag hom, en laat ons eet en feesvier! 24Hierdie seun van my was dood, en hy lewe weer; hy was verlore, en ek het hom teruggekry.’ Toe het hulle begin feesvier.

LUKAS 15:21-24AFR83Maak oop in die Bybelleser

Kom ons wees eerlik, dit is nie lekker as jy ’n fout gemaak het nie. Ek kry sommer warm gloede en hartkloppings, veral as ek besef ek het dalk by die werk ’n fout gemaak.

Die gelykenis van die verlore seun bevat verskeie lesse, maar een van dié lesse is om jou foute te kan erken.

Die jongste seun van twee het gedink hy weet beter – hy het weggetrek en al die geld wat hy by sy pa gekry het, gemors. Dis natuurlik eers toe dinge ellendig raak, wat hy besef dat hy verkeerde besluite geneem het en eintlik ’n enorme fout begaan het. Hy het teruggegaan na sy pa. Hy het erken hy was verkeerd en jammer gesê.

Dit moes moed geneem het om terug te gaan en om verskoning te vra. Sy pa kon hom so maklik weggewys het. Maar hy het nie. Hy was so bly oor sy seun se terugkeer dat hy ’n feesmaal laat voorsit het. Sy pa was uiteraard nog net so lief vir hom, ten spyte van sy foute. Hy het hom heeltemal vergewe.

Een van my beste vriendinne sê graag: “Ek sal maar in my swaard val.” Ek lag gewoonlik baie lekker want dit klink ontsettend dramaties. Tog het ek ook al uit ervaring besef dit is dikwels die beste ding om te doen. As jy fouteer het, erken dit, vra om verskoning en stel reg waar jy kan. Baiekeer is erkenning die een ding wat die grootste verskil maak. Ons is almal mense, ons maak foute en juis daarom is baie mense ook veel meer vergewensgesind as wat jy dalk verwag.

Ek wonder of dit nie juis ook die een aspek is, wat die pa van die verlore seun se hart sag gemaak het nie? Hy kon sien sy seun is bewus van sy fout en is werklikwaar jammer. Hy het nie geskroom om sy seun te vergewe nie. Wat ’n voorbeeld.

Gebed: Vader, help my om te erken as ek ’n fout gemaak het, selfs al voel ek skaam daaroor. Vergewe my vir my foute en help my om dit reg te maak. Help my ook om ander mense wat foute gemaak het, te vergewe. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS