Bible Society of South Africa

In pas met God: wyse manne soek Hom steeds - 13 Desember 2023

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

9Nadat hulle die koning aangehoor het, het hulle vertrek; en kyk, die ster wat hulle sien opkom het, het hulle gelei totdat dit gaan staan het bo die plek waar die Kindjie was. 10Toe hulle die ster sien, was hulle baie bly.

MATTEUS 2:9-10AFR83Maak oop in die Bybelleser

‘n Reis is ‘n waardevolle ondervinding want dit verryk ons begrip van die lewe.

Wanneer ek gedurende die nag vlieg, hou ek daarvan om na die flikkerliggies daar ver onder te kyk en my verbeelding aan die gang te kry oor die lewe van die mense daar – veral oor die woestyn waar alles so verskil van beboude gebiede. Daar is fassinerende vorms met lang strepe donkerte tussen in wat my interesseer, en teen skemer is die lug feitlik deurskynend en die sterre skitter soos in die verhale uit “Die Arabiese Nagte”
.
Hierdie hemelruim sou sigbaar gewees het vir die sterrekykers uit die Ooste, die wyse manne, onderweg op lang woestynpaaie, aangespoor deur die verskyning van ‘n nuwe, helder ster, op soek na ‘n baba wat in ‘n vreemde land gebore is, ‘n koning soos geen ander nie. Hierdie geleerde manne wat sterrekunde bestudeer het, het hierdie ster so buitengewoon gevind dat hulle gewillig was om ten koste van hulle eie tyd en gemak en met groot opoffering, die reis te onderneem om dié koning, aan wie die verskyning van die ster te danke was, te gaan sien.

Die oortuiging van hierdie ernstige soekers was so groot dat hulle die reis met vasberadenheid aangepak het, en selfs kosbare geskenke vir die onbekende koning saamgedra het. Hulle is geensins deur potensiële probleme afgeskrik nie. Koning Herodes het probeer om by hulle uit te vind waar die Kindjie was, maar God het hulle in ‘n droom gewaarsku om ‘n ander roete huis toe te volg.

Die goeie nuus van Jesus se geboorte het toe reeds begin om in die wyer wêreld te versprei en God het die soekers geseën.

Die wyse manne se reaksie op die ster was merkwaardig. Nadat hulle met Herodes gepraat het, was hulle verheug om die ster weer te sien – so asof hulle met ‘n lang verlore vriend verenig is. Miskien was dit ‘n blye versekering van die doel van hulle reis en hoe die ster hulle gelei het na waar Jesus was.

Vir hulle was die taak voltooi: “Hulle het in die huis ingegaan en die Kindjie saam met Maria, sy moeder, gesien, en hulle het gekniel en aan Hom hulde bewys. Daarna het hulle hulle reissakke oopgemaak en vir Hom geskenke uitgehaal: goud, wierook en mirre.” (Matteus 2:11)

In hierdie Adventstyd, mag die wyse manne op ons eie reis na die Christuskind vir ons ‘n inspirasie wees. Kom ons bly, soos hulle, in pas met God, en kom ons herken sy tekens en wees gehoorsaam aan sy roeping.

In Jeremia 29:13 sê God: “Julle sal vra na my wil en julle sal dan my wil ken as julle met julle hele hart daarna vra.” Laat ons onsself daaraan toewy om Hom te ken, nederig te vra, gewillig te wees om opofferings te maak en aan Jesus lof en eer te bring deur Hom met ons hele hart lief te hê.

Mag ons getrou bly aan ons oortuigings en nie deur die vyand in enige gedaante verlei word nie.

Gebed: Hemelse Vader, ons buig neer voor Jesus, die Een “vol genade en waarheid” wat van U kom, en ons aanbid Hom. Gee aan ons ware vreugde, vervulling en ‘n vol lewe. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS