Bible Society of South Africa

In pas met God: Geloof se belonings - 14 Desember 2023

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

27Deur die Gees gelei, het hy opgegaan na die tempel toe. Toe die ouers die Kindjie Jesus bring om vir Hom die gebruiklike bepaling van die wet na te kom, 28het Simeon Hom in sy arms geneem en God geprys en gesê:

LUKAS 2:27-28AFR83Maak oop in die Bybelleser

38Juis op daardie oomblik het sy nader gekom en God gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het.

Dit was ‘n wonderlike gebeurtenis toe Anne-Marie Allen op die vooraand van haar 99ste verjaarsdag ‘n medalje ontvang het vir haar rol tydens die “Battle of Britain” gedurende die Tweede Wêreldoorlog. Sy moes tred hou van elke vlieënier se posisie en hulle veilig terug lei – ‘n belangrike rol – iets waaroor sy egter baie nederig was, aangesien sy baie bewus was van al die ander mense wat ook hulle land gedurende die oorlog gedien het. Nietemin was sy baie opgewonde oor dié erkenning, al was dit byna 80 jaar later!

Is dit nie in sekere opsigte soortgelyk aan hoe God met sy kinders werk nie? Hy hou tred van ons almal en lei ons veilig huis toe, terwyl Hy op sy tyd ons ryklik seën.

Wanneer ons in pas met Hom is, raak ons bewus van die miljoene klein dingetjies, sowel as die ongelooflike groot goed, wat Hy vir ons doen. Dat Hy in hierdie tye aan ons dink en ons gebede beantwoord, verskaf groot blydskap.

Lukas vertel ons in vandag se verse van twee mense wat dwarsdeur hulle lang lewens God getrou gedien het. Ons sien die wonderlike werking van die Heilige Gees wanneer Hy hulle in die tempel plaas presies op daardie oomblik toe Josef en Maria die baba Jesus daarheen gebring het om die voorskrifte van die wet na te kom.

Simeon “was getrou aan die wet en vroom, en het uitgesien na die koms van die Verlosser van Israel. Die Heilige Gees was op [hom].” (Lukas 2:25) Die Heilige Gees het hom beloof dat hy nie sou sterf voordat hy die Messias gesien het nie. En tot sy groot vreugde kon hy Jesus, die babatjie, in sy arms neem en die Here deur ‘n profetiese loflied prys.

Anna, ‘n profetes, was 84 jaar oud en “sy … het God dag en nag gedien deur te vas en te bid”. (Lukas 2:37) Sy is ook baie duidelik deur die Heilige Gees gelei om juis op daardie stadium by die tempel aan te kom. Sy het God ook gedank en oor die Kindjie gepraat met almal wat na die verlossing van Jerusalem uitgesien het.

Hierdie gelowige mense wat vir hulle hele lewe gewag het vir God se belofte van verlossing in Jesus om volbring te word, het nou hulle beloning ontvang.

Baie mense voer ‘n rustige stil bestaan, vervul op ‘n bekwame wyse hulle doel hier op aarde, maar word nie juis deur ander daarvoor erken nie. Anders as die mense waarvan ons vandag gehoor het, voel sommige, soos hulle ouer word, miskien asof hulle vergeet en nie waardeer word nie. Maar God vergeet hulle nooit nie.

Kersfees is ‘n vreugdevolle herinnering dat, as ‘n seën vir alle mense, Jesus gekom het om ons te verlos en met God te versoen. In Simeon se woorde:” ‘n lig tot verligting van die nasies en tot eer van u volk Israel.” (Lukas 2:32)

Verwag ons Hom hierdie Advent? Indien wel, sal die Heilige Gees ons na Hom toe lei.

Gebed: “Mag daar aan die roem van die Here geen einde wees nie! … Ek wil tot eer van die Here sing so lank ek lewe, ek wil die lof van my God besing so lank ek daar is. Mag hierdie bepeinsinge van my vir Hom aanneemlik wees!” (Psalm 104:31,33,34) Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS