Bible Society of South Africa

In pas met God: Van vrees tot blydskap - 12 Desember 2023

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

10Toe sê die engel vir hulle: “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is.

Vrees en blydskap gaan nie gewoonlik hand aan hand nie, maar wie het nou al ‘n engel gesien?

As ek terugdink aan Kersvertonings wat ek al bygewoon het, is die skaapwagters gewoonlik ‘n vrolike, raserige klomp – allesbehalwe bang – terwyl onderwysers tevergeefs probeer om hulle te laat ophou praat en stamp omdat die skugter engel met glansende vlerke, verskyn het.

Maar die skaapwagters in die oop veld daardie donker nag toe die engel verskyn en die heerlikheid van die Here rondom hulle geskyn het, was nie deel van ‘n Kersspel nie. Nee, hierdie was die werklikheid – die ware Jakob – en dit het hierdie skaapwagters wat getrou in die koue hulle skape opgepas het, in verwondering gelaat.

Dit is vir my so wonderlik dat God hierdie nederige manne wat hulle taak ernstig opgeneem en God geëer het, uitgekies het om die eerstes te wees om die verstommende nuus te hoor: “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” (Lukas 2:11) Hulle reaksie was onmiddellik. Met groot blydskap het hulle, wat geseën was met die menigte engele wat God prys, hulle na Betlehem gehaas om God, as ‘n Kindjie in ‘n krip, te gaan sien. Nadat die waarheid geopenbaar en vrees oorwin is, het die skaapwagters met groot blydskap terwyl hulle God loof en prys teruggegaan na hulle skape.

Ons, net soos die skaapwagters, kan ook die goeie nuus van Jesus se geboorte vier, en dit wat die engele oor die Kindjie gesê het in geloof ontvang en “Hom loof en prys” (Lukas 2:20) oor dit wat Hy vir die wêreld gedoen het. Kerfees verander ons lewensondervinding. Hy is Immanuel – God by ons – wat ware blydskap en vrede bring en ons vrees in vreugde verander.

Wanneer ons Kersfeesvierings Jesus as die ware rede vir die Kersseisoen weglaat, ignoreer ons die waarheid wat ons vry sal maak. (Johannes 8:32) Anders as die skaapwagters, sal ons dan nooit die ware blydskap en seëning beleef waarna die engel se boodskap verwys nie.

Daar is baie paaie wat ons gedurende ons leeftyd moet loop, maar waar ons ook al is as die lig van God se waarheid in ons skyn, val alles in die regte plek. Die skaapwagters se vrees het in blydksap verander. Die ware vreugde wat ons ook kan beleef wanneer ons die Kindjie in die Krip ontmoet en in Hom glo, en wie se volmaakte liefde vrees verdryf. (1 Johannes 4:18)

Wat beteken daardie heilige nag vir ons? Hoe reageer ons op die nuus van die Verlosser se geboorte? Het ons soos die skaapwagters die nuus gehoor en geglo, of gaan hierdie wonder van genade vir altyd vir ons ‘n Kersspel bly?

Gebed: Genadevolle God, gee aan ons gelowige harte wat U as die Kindjie wat by ons kom woon het, sal verwelkom. Gee dat ons hierdie Kersfees u liefde vir ‘n verlore wêreld met ware blydskap sal vier. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS