Bible Society of South Africa

In pas met God: Nederig tot sy eer - 8 Desember 2023

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

10Onderwerp julle in nederigheid voor die Here, en Hy sal julle verhoog.

JAKOBUS 4:10AFR83Maak oop in die Bybelleser

Ek was ongeveer Maria se ouderdom toe ek gevra is om die “Magnificat” (Maria se loflied) tydens die skool se Kerssangdiens te sing. Ek was oorweldig, maar wou nie vir die skoolhoof nee sê nie. Met vrees en bewing het ek ingestem – om Maria se woorde te leer het my egter geboei en my insig gegee in haar diepgaande gevoel vir die omvang van God se plan en haar opregte opgewondenheid omdat sy God se nederige diensmeisie kon wees.

Maria was ‘n gewone jong meisie, wys bo haar jare, met ‘n vertrouende gees en ‘n rein hart. Die feit dat sy verloof was aan Josef, ‘n afstammeling van koning Dawid, het nie haar diepe eerbied vir God verander nie. Ons sien dit in die manier wat sy die engel Gabriël, God se boodskapper, ontvang. Maria besef onmiddellik die belangrikheid van hierdie besoek en sy ontvang die nuus wat hy bring, gewillig.

Die persoon wat God gekies het om die moeder van sy Seun te word moes noodwendig ‘n diep gelowige persoon wees met die moed om baie te kon verduur, want reg van die begin is daar baie van haar as die moeder van die Verlosser van die wêreld gevra. Sy is verantwoordelik gehou vir haar toestand; tydens die ongemaklikste deel van haar swangerskap moes sy ‘n lang reis verduur, en in ‘n stal geboorte gee. Die gesin moes later van die wrede koning Herodes wegvlug en as vlugtelinge in Egipte woon. Later in haar lewe het daar baie lyding op haar gewag.

Om ernstig in pas met God te wees begin by ‘n diepe besef van hoe groot Hy is en hoe gewoon ons is. Ons reaksie op dinge wat in ons lewe gebeur sal altyd gemotiveer word deur dit waarop ons die meeste fokus – God of die situasie – op ander of op onsself. Maria was in pas met God se plan.

Maria het nie geweet wat alles van haar verwag sou word toe sy Gabriël se boodskap aanvaar het nie. Sy het nederig, in geloof, gewillig om te luister en te gehoorsaam, alles wat God van haar verlang het aanvaar want Hy was in haar hart: “Ek is tot beskikking van die Here. Laat met my gebeur wat u gesê het.” (Lukas 1:38)

Om in stap met God te wees verlang nederigheid en geloof wat groei en om ons in elke situasie op sy wysheid te verlaat en nie op ons eie vermoëns nie. Nederigheid, dankbaarheid en lof is onlosmaaklik hieraan verbind aangesien dit ons gegrond hou en ons in staat stel om, soos ons ons waarde in sy oë vind, vervulde lewens te lei.

Wanneer ons nederig is sê die Bybel ons moet: “in alle omstandighede dankbaar [wees]” (1 Tessalonisense 5:18), en “aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink” (Efesiërs 3:20) onsself en al ons talente toevertrou.

Maria het dit gedoen – wat doen ons?

Gebed: “Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want U is God, my redder. In U stel ek elke dag my verwagting … Moet tog nie dink aan die sondes en oortredinge van my jeug nie. Dink aan my in u trou, Here, omdat U goed is.” (Psalm 25:4-5,7) Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS