Bible Society of South Africa

In pas met God: die Herder lei en voorsien - 11 Desember 2023

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

3Hy gee my nuwe krag.

Hy lei my op die regte paaie

tot die eer van sy Naam.

Waar sal skape sonder ‘n skaapwagter wees? Waar sal gelowiges wees sonder God en sy onfeilbare liefde vir almal wat Hom liefhet en vertrou? Die Herderpsalm vertel in geliefde en betekenisvolle woorde hoe God, as die Herder, diegene wat daagliks met Hom wandel, getrou versorg. In sy barmhartigheid lei Hy hulle, voorsien in elke situasie en stap saam met hulle deur die goed en sleg van die lewe.

Toe ons ons eerste kind verwag het, het ons die nuus ontvang dat my man in die nuwe jaar ‘n gemeente in ‘n ander provinsie moes gaan bedien – drie maande voordat ek geboorte moes gee en twee en ‘n half uur se ry weg van ons tuisdorp. Wat moes ek doen sonder my dokter wat ek vertrou en my familie en vriende om in hierdie wonderlike gebeure in ons lewens te deel? Ons het vertrou dat God ook in hierdie situasie die beste weet.

Maria en Josef het sonder twyfel ook so gevoel toe keiser Augustus ‘n bevel uitgevaardig het dat almal na hulle tuisdorp toe moes gaan vir ‘n sensusopname. Maria, hoog swanger, is blootgestel aan ‘n vyf tot 10 dae reis op die rug van ‘n donkie al die pad na Betlehem want Josef was ‘n afstammeling van koning Dawid. Wie anders as God kon hulle help?

Philip Yancey sê oor hulle: “Toe ek vandag die verhaal van Jesus se geboorte lees, het ek begin bewe by die blote gedagte dat die lot van die wêreld van die reaksie van twee plattelandse tieners afgehang het.” [vry vertaal]

Hierdie twee “plattelandse tieners” was egter nie op hulle eie missie nie, hulle is deur God aangestel om die Verlosser in die wêreld te bring – die belangrikste roeping moontlik. Beide was ‘n gewillige, gelowige deelnemer en hulle het die onvermydelike probleme wat tydens hulle reis, en later, op hulle gewag het, volkome aan God toevertrou. Hulle was geïnspireerd en toegewyd.

Die engel wat in ‘n droom aan Josef verskyn het, het gesê: “Josef … moenie bang wees om met Maria te trou nie, want wat in haar verwek is, kom van die Heilige Gees. Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.” (Matteus 1:20b-21)

En God het hulle nie teleurgestel nie. Hy het hulle in elke situasie gelei en vir sy goddelike doel sy Seun veilig in die wêreld gebring.

Hulle het God vertrou, hulle geloof het gegroei, hulle het vrede gehad en hulle was dankbaar vir die nederige stal wat by hulle aankoms in Betlehem vir hulle aangebied is en vir die “nuwe krag” wat Maria ontvang het toe sy “haar Eerstelingseun in die wêreld gebring en Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip neergelê [het]. (Lukas 2:7)

Ek en my man het ook geglo en was so dankbaar – en dit was maar net die begin. Ons kon ook bely “Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam … U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly …” (Psalm 23:3,6a)

Gebed: Genadige Herder, U het ‘n doel met elkeen van ons, wie ons ook al mag wees. Dankie dat U ons toerus en in ons behoeftes voorsien, hoe gering dit ook al mag wees. Lei ons elke tree op die regte pad. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS