Bible Society of South Africa

In pas met God: Duisternis of lig - 4 Desember 2023

Deur Louise Gevers

Bybelteks(te)

5Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.

JOHANNES 1:5AFR83Maak oop in die Bybelleser

Deesdae is die wêreld ‘n baie donker plek. Oral is daar lyding – verskriklike lyding as gevolg van oorloë, aardbewings, hongersnood, vloede – elkeen vol afgryse wat oral deur die media op ons skerms uitgebasuin word en ons soms met weersin vervul.

Ons steier onder die mensdom se onmenslikheid, korrupsie en onderdrukking met ‘n toenemende gevoel van onrus namate boosheid klaarblyklik die wêreld in duisternis verswelg. Sonder lig is daar geen visie en aksies word verhinder. Die wêreld het ‘n behoefte aan lig en die hoop wat dit bring.

In Suid-Afrika is ons pynlik bewus van die behoefte aan fisiese lig. Daaglikse tye van donkerte ontwrig ons lewens, ignoreer ons behoeftes en skep chaos, alles teen ‘n groot koste. Dit is toenemend moeilik om te lag vir die grappe daaroor wat die rondte doen, veral toe ‘n dierbare vriendin tydens die soveelste beurtkrag val en haar gewrig breek. Dit laat ‘n mens opnuut besef dat dit geen grap is nie.

Dit is ‘n donkerte waaroor ons min beheer het en ons kan maar net bid. Ons moet in pas met God wees sodat ons keuses kan maak wat ‘n verskil kan maak.

Die goeie nuus is dat ons nie in die duisternis hoef te sit of rond te dwaal nie; ons kan die lig nader want Jesus is die sleutel tot die vryheid wat die lig bring. Die profeet Jesaja het van Hom gesê: “Die volk wat in donkerte geleef het, het ‘n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ‘n lig geskyn.” (Jesaja 9:1)

Jesus het na hierdie wêreld gekom om ons uit die duisternis te bevry. Hy verdryf die donkerte deur harte te verander en deur sy lig hoop te bring. Reeds van die begin van die skepping was Hy by God. “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God … In Hom was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense.” (Johannes 1:1a,4) Jesus self het gesê: “Ek is die lig vir die wêreld. Wie My volg, sal nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee.” (Johannes 8:12)

Hier aan die begin van Advent, die seisoen van lig, is vandag se teksvers ‘n tydige verklaring van waarheid en bring dit ‘n boodskap van hoop aan ‘n wêreld uit pas met God. Duisternis het nog altyd bestaan, maar tog kan dit nie die kleinste liggie uitdoof nie. Inteendeel, die kleinste liggie verdryf die donkerte.

Jesus se lewe op aarde is gekenmerk deur ontmoetings met mense wat uit pas was met God en met Hom want, “die mense [het] eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg”. (Johannes 3:19)

Aan wie is ons getrou?

Terwyl ons wag om die geboorte van Jesus, die Messias, te vier, kom ons steek elke week ‘n nuwe kers in ons huise en kerke aan en kom ons sing met blydskap Kersliedere oor sy koms. Kom ons gebruik hierdie spesiale tyd om ons harte te ondersoek, ons eie donkerte te bely en Jesus toe te laat om ons Lig te wees.

Gebed: Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad! (Psalm 139:23-24) Here, help my om deur die lig wat lewe gee, ‘n verskil in hierdie wêreld te maak. Amen

Bible Society of South Africav.4.19.0
VOLG ONS